Posted on
27 August 2009
LEEFSTYL : O.l.v CAROL DE VILLIERS
Die doel van pastoor Chris van Staden se praatjie was om Die Vrou van Môre te laat fokus op ‘n paar kenmerke wat van hulle volwaardige, gelukkige mense sal maak wat hul Godgegewe roeping uitleef.
Chris het die vroue op ‘n gedagtereis geneem van wat met die vroue in die Bybelse tyd en ook die afgelope 100 jaar gebeur het. In die vroegste tye was die vrou meestal niks meer as ‘n slaaf nie. In 1920 het vroue in Amerika stemreg gekry en in Switserland eers in 1971. Volgens ‘n studie in Amerika het 97 % van die vroue wat onlangs ondervra is gesê hulle ag hegte familiebande hoër as sukses of geld. Omdat so baie huwelike deesdae verbrokkel en albei ouers boonop werk kry kinders minder aandag en in ons eie dorpe is dit sigbaar. Meer vroue stel ‘n loopbaan voor ‘n huwelik en baie ondernemings het ‘n vrou aan die stuur van sake.
Alles wat verkeerd loop in die samelewing kan nie voor vroue se deur gelê word nie, maar vroue moet besef watter verskil hulle wel kan maak en dit begin met ‘n gelukkige huwelik. Vroue moet weer gaan kyk wat God van hulle verwag soos in Efesiërs 5 opgeteken is. Onderdanigheid is nie om vertrap te word nie – eerder om vryheid, respek en harmonie te bewerkstellig. Die man moet gerespekteer word as die hoof en vroue moet daarteen waak om nie beheer te neem nie.
Hierna volg die geklik van breinaalde toe Joeks Myburgh aan die lede wys hoe om dubbelbreiwerk te doen. Met twee naalde brei jy tegelykertyd die voor- en agterkant van ‘n sakkie soos benodig vir ‘n warmwatersak of hangeroortreksel. Daar is net iets terapeuties aan die geklik van breinaalde.
Bessie Kriek