Posted on 03 September 2009

Jenifer Meyer van Hanekam Tak skryf:

 

 

 

Jenifer en CP Meyer het ‘n blesbok aan die tak geskenk, wat toe verwerk is in wors en hamburger patties. Die Bay FM Opskop wat in Maart op Uitenhage plaasgevind het, het Hanekam Tak die geleentheid gebied om’n wildsvleis stalletjie daar te bedryf. Lede het in skofte gewerk om die stalletjie te beman en om hamburgers en worsrolletjies te verkoop. Lede en vriende het die meeste van die res van die benodigdhede geskenk.Die werkery het natuurlik met groot pret gepaard gegaan. Die fondse wat tydens die Opskop ingesamel is, is geoormerk vir die projek by Rosa Munch Tehuis.

 

 

 

 

 

 

 

 

Mev. Robey, van Rosa Munch Tehuis, is gevra om ‘n lys van die grootste nooditems in die Siekeboeg saam te stel. Plaaslike fisioterapeut en Hanekam-lid, Salome Pieterse, het die projek hanteer.

 

 

Die eerste item op die lys was die badstoele wat in die storte gebruik word vir die bejaardes om in te sit, terwyl hulle gebad word. Die wiele was in ‘n gehawende toestand. Hanekam was bevoorreg om met behulp van Salome die dienste van Mnr Zac Kleinhans, ‘n plaaslike Ortotis & Prototis, te bekom. Hy het die siekeboeg persoonlik besoek om die stoele een vir een te herstel. Nuwe wiele is aangesit en dele van die ou wiele wat weer gebruik kan word, is herwin vir toekomstige herstelwerk. Die nuwe wiele kon gekoop word uit die fondse wat tydens die Opskop ingesamel is.

 

 

Mev. Robey het ook hul behoefte aan sagte kombersies, ‘n bloeddrukapparaat en bedpanbedekkings uitgewys. Lid, Margie van Huyssteen het vir elkeen van die 25 bejaardes kombersies vir hul beddens gemaak met materiaal wat aangekoop kon word uit die fondse ingesamel. Salome se kontakte in die mediese wêreld het goed te pas gekom om ‘n bloeddrukmeter en glukosemeter te bekom. Ons kon ook plastiese handskoene, papier bedpanbedekkings, ens. aankoop.

 

 

Die inwoners en personeel van Rosa Munch Tehuis was baie in hul skik met VLV Hanekam se betrokkenheid en ruim bydraes.  Die tak het ook besluit dat daar met die projek voortgaan sal word. Die bejaardes in die siekeboeg sal voortaan deurlopend bygestaan word om ook sodoende te probeer om hulle tyd daar so gemaklik moontlik te maak.

 

 

 

In die onderstaande foto is Jenifer, Mnr Zac Kleinhans, Margie van Huysteen, Salome Pieterse, Mev. Robey en twee personeellede van Rosa Munch

 

 

 

 

Comments are closed