Posted on
03 September 2009
Muggie du Toit gesels uit Porterville:
Die saamroepers van die onderskeie portefeuljes was verantwoordelik vir die potpourri-middag program. Om die lede in die regte stemming te bring, het Mary Ann van Schalkwyk ‘n kostelike Noot vir Noot aangebied wat groot applous uitgelok het.
Kunste en Handvlyt: Johanna Rheeder demonstreer hoe om ‘n fotoraam in kamma-piouterwerk te maak. Dit is ‘n kompetisie-artikel vir die Augustus vergadering.
Leefstyl: Eleanore Grobbelaar hou ‘n kruie-vasvrae om lede se kennis van kruieplante te toets.
Landbou en Tuinbou: Zabetha Albertyn demonstreer hoe om ‘n roosboom te snoei. Juliemaand is die beste tyd om hierdie tuinwerk in Porterville te doen.
Gesondheid: Maatjie van der Westhuizen, verpleegkundige by die plaaslike tehuis vir bejaardes, demonstreer hoe om ‘n bejaarde fisies te hanteer, asook hoe om die voorwerp wat lugwegobstruksie veroorsaak te verwyder indien ‘n bejaarde verstik.
Opvoeding en Kultuur: Louwna Hoving noem die korrekte etiket by die gebruik van ‘n selfoon en e-pos. Dit is onvanpas om luid oor ‘n selfoon in die openbaar te praat en ons hoor weer: SKAKEL SELFONE AF TYDENS ‘N VERGADERING!
Openbare Sake: Muggie du Toit toets eers die lede se kennis van die verskillende gekleurde drade van ‘n driepunt-muurprop. Daarna demonstreer sy hoe om ‘n driepunt-muurprop te vervang.