Posted on 10 September 2009

Mev. Jossie Ackerman en haar stigterslede het reeds in 1930, in samewerking met die Departement van Landbou, ‘n “demonstrasietrein” vanaf De Aar na Upington laat loop. Die trein was toegerus met ‘n mans- en vroueafdeling in belang van landbou en huisvlyt.

Demonstrasies is gehou en kundiges is gebruik om landbouprodukte te evalueer. Die standaard van produkte is met opbouende kritiek verhoog.

 

Sirkel Noordwes-Kaap het reeds in 1930 sy beslag gekry as Sirkel Upington. Prieska, Marydale, Putzonderwater en Upington was die eerste 4 takke in die sirkel. Die eerste sirkelkonferensie het in 1933 aan huis van die Connon egpaar te Putzonderwater, plaasgevind. Mev. E. de Wit is by hierdie geleentheid as die eerste sirkelpresident aangewys.

 

Tydens die Groot Depressie en geweldige droogtes van die dertigerjare, het Jossie Ackerman die VLVKP se werk in die verre Noordweste met die minimum van kommunikasiemiddele uitgebou.

 

Op 15 Oktober 1993 is die sirkel se naam na Noordwes-Kaap verander. Vanaf Upington, al langs die Oranjerivier tot by Prieska, oor Marydale en Kenhardt in die hart van die Boesmanland, tot by Pofadder, is die sirkel geografies wyd uitgestrek. Augrabies, Kakamas, Keimoes en Oranjevallei is ook deel van NWK. Ten spyte van groot afstande bly die entoesiasme, betrokkenheid en prikkelende humor van lede, ongedemp!

Comments are closed