Die VLVK is 80 jaar oud maar glo dit of nie Richmond se tak is al 82 jaar oud. Hoe kry ons dit reg vra jy? Wel op 12 Maart 1927 het hier ‘n vergadering plaasgevind en ‘n “Home Economic Society” tak is hier gestig wat toe later VLV geword het.
Op 14 Oktober het Richmond tak 'n ete gehou vir die huidige en erelede van VLVK en die Boerevereniging is ook uitgenooi.
Een van ons lede, Mev. Elvira Paul is al 40 jaar ononderbroke, ‘n aktiewe lid van die Richmond tak.
Die gasspreker was Mev Hester Franken van De Aar wat as "Supervrou" ons VLV dames kom toespreek het oor die "Vroue van die Toekoms" . Sy is 'n formidabele vrou en het aktuele sake bespreek, en deurlopend die veranderinge en vernuwinge in die samelewing, die mens en verhoudinge raakgevat. Kinders grootmaak is ook nie meer speletjies nie, maar sy het dit mooi onder die knie! Dit was 'n belewenis.
Daarna het Tommie en Ivonne Gentle van Gentlecare in Britstown die dames en die mans kom meedeel van hulle wonderlike werk wat hulle doen in die gemeenskap van Britstown. Hulle het die hele gehoor geraak met de stories van welwillendheid en empatie, omgee en liefde. Ons tak het 'n veiling van koeke en 'n stel antieke lepels en koekvurkies gehou ten bate van Gentlecare.
Richmond se mense het 'n oop hart en 'n oop hand, en aan die einde van die aand is R4370.00 ingesamel. Waar in die land sal iemand 'n koek koop vir R1000.00, behalwe hier waar ons "die spirit of Ubuntu” het. Dit was 'n vrugtekoek met die VLV se logo op, gebak deur baasbakster Mev. Seppie Oosthuizen. Baie dankie aan Hendrik Ackerman wat homself die taak van afslaer gegee het en aan die deelnemers.
Die blom uitstalling het mooi blomme na die saal gebring, en Seppie Peyper het die beoordeling behartig. Pragtige blomme van die Karoo! Argilla potte is uitgestal.
En die dames het wonderlike kos voorberei. Almal het lekker gesmul en heerlik gekuier onder begeleiding van die musiek van Johan Tolken.
Gelukkige verjaardag VLVK en mag jy die volgende 80 jaar van krag tot krag gaan!!
Richmond dames luister aandagtig

Hendrik Ackerman, die afslaer

Die koek is vir R1000 verkoop!
