Posted on 16 November 2009

In die mooiste, mooiste maand van Oktober het die lede van Willowmore tak afsluiting gehou.  Dit was 'n feestelike geleentheid! Dalk selfs meer so omdat die manne saam gekuier het en natuurlik ook omdat Middelland sirkelpresident, Lynette Martin, die eregas was. 

 
 
Soos dit die gebruik van die tak is, word die manne elke 2de jaar genooi om die afsluiting by te woon.  Ewe gedwee luister hulle dan ook na die jaar se relaas en kyk hoe daar geskenkies uitgedeel en toekennings ontvang word.  Die mans is hartlik bedank vir hulle ondersteuning en geduld met die VLV-vroue in die huis, wat alewig op een of ander missie is. Sonder hulle ondersteuning kan 'n VLV-vrou tog nie met 'n lekker hart werk en alles insit nie.  Sekretaresse, Louretta Lötter, se man Kobus, het uit die manlike oogpunt 'n paar woorde gesê wat natuurlik baie goed was vir die vroulike ego’s.


 
Lynette het van die bra's wat tydens Bras, Beads & Bags vertoon is, gebring om diegene wat nie by die geleentheid was nie, te wys wat hulle gemis het. Die manne het dit net so geniet om na die bra’s te kyk, maar hulle was net spyt dat daar nie 'n modelletjie of twee was om die bra’s te vertoon nie. Seker dié dat Kobus dit self probeer het!


 
Daar is ook 4 diensknopies uitgedeel en deur Lynette aangesteek.  Elriza van Rensburg, Nicolene van Jaarsveld en Jackie Barnard het elk 'n 20jr-knopie gekry en Charmaine Malan (voorsitter) het 'n 10jr-knopie ontvang.


 
Willowmore begin die nuwe jaar met nuwe vuur op 26 Januarie. 

Comments are closed