Posted on
20 November 2009
De Aar tak het Borskanker maand gevier deur almal pienk aan te trek na die Oktober vergadering. Ons het meer inligting oor borskanker gekry. Hester Venter het deeglike navorsing gedoen en ons meegedeel dat daar selfs deur kenners verskil word oor die oorsake van borskanker. Die een groep sê jou leefstyl is van kardinale belang en die ander groep sê jou leefstyl het niks daarmee te doen nie.
Lorette Stalk het ons ingelig oor die uitdagings wat die bestuur van ‘n diereskuiling in die gesig staar. Seker een van die grootste hoofbrekens is natuurlik finansies, maar ook kos, mediese sorg vir die diere en hulp is uitdagings wat op ‘n daaglikse basis die hoof gebied moet word.

………..toe sit ons sommer die pienk tema van Oktober voort met ‘n pragtige pienk tafel vir ons viering van VLVK se 80ste.


Dan is ons ook baie trots op ons VLVK vroue-entrepreneur kompetisie wenner. Alma van den Berg het haar afdeling gewen met haar onderneming waar sy opleiding aan jong dogters verskaf. Sy stel hulle in staat om ‘n verskil in hulle gemeenskappe te maak. Twee van die dogters op hulle plaas help haar om “Psalm 23” armbandjies te maak. Die krale armbandjies het ’n kaartjie aan met die betekenis van elke kleur. Die dogters spog graag by hulle skool en is baie trots daarop dat hulleelke jaar hulle eie skoolgeld kan betaal. Baie geluk Alma, van ons almal.

Met ons afsluitingsvergadering het ons meer oor koffie geleer. Elke dame het 2 geskenkies saamgebring vir die inwoners van die ouetehuis, asook klere en speelgoed vir die kinders van ons plaaslike Farr-huis.
Die volgende dames het pryse gewen:
100% Bywoning: Millicent Venter, Hildegard van Zyl
21 Punte: Leana du Preez, Alma van den Berg, Ivonne Fourie
Sasko Beker: Ansie Maass
Meeste Punte: Alma van den Berg
Ons hoop almal het ‘n Geseënde Kersfees en dat die Nuwe Jaar net die mooiste en beste inhou!