Posted on 24 February 2010

Donderdag 18 Februarie, almal het geweet iets gaan gebeur by hierdie VLV vergadering. Ons is gesê om gemaklik aan te trek... en dis al.


Met groot verwagtinge en effense senuwees, het die dames vir die middag-vergadering opgedaag. Op die tafels was daar vir elk ‘n lang tou met ‘n klokkie aan die punt, en vir ekstra versiering, ‘n blaartjie of kraletjie, blommetjie en so aan - nie dat dit regtig iets weggegee het nie.


Die vergadering is formeel geopen en belangrike onderwerpe is bespreek, maar  ‘n effense spanning het in die lug gehang, met die vraag van die tou-klokkies op die tafel wat onopgelos gebly het. Uiteindelik is ons Kuns en Handvlyt sameroeper, Helaan Malan, aan die word, en die groot raaisel is uiteindelik ontbloot – Belly Dancing!
Helaan het verduidelik wat die oorsprong van Belly Dancing is, en dat die invloede nie werklik so negatief en suggestief is soos wat ons vandag aanneem nie. Die voordele van Belly Dancing is ook vanselfsprekend – ‘n gesonde oefening vir vrouens van enige ouderdom en gewig, en natuurlik selfvertroue.


Die dag was egter nie om na die praatjie nie, nee, dit was tyd vir elke vrou om haar klokkie-tou om haar lyf te bind en te wys wat in haar steek! En dit was seker ‘n hoogtepunt vir Sutherland VLV. . . ‘n paar vrouens (met die hulp van ‘n DVD) wat hulle heupe en arms swaai, met diepe konsentrasie op hulle gesigte.

 

Dit was definitief ‘n eerste vir Sutherland se kerksaal! So sê Jolene du Plessis, skakelbeampte van Sutherland Tak.

 

 'n Klokkie vir elkeen

 

Helaan demonstreer 

 

 

 So maak mens

 

Skaterlag

Comments are closed