Posted on
12 March 2010
Petrusville het 'n heerlike "Polkadot" vergadering gehou. Elke sameroeper het 'n beurt gekry om iets van haar studierigting te doen. Die tema was "Wat's in en wat's uit."
Adri de Villiers (Leefstyl) het 'n praatjie gehou oor wat in en wat uit is op die modefront vir 2010. Sy het na modekleure (soos grys en swart), style, haarstyle (langer, krulleriger hare) en grimering verwys. Daarna het geregte, bestanddele, en dek van tafels vir 2010 aan die beurt gekom. Binnenshuise versiering vir 2010 is ook behandel. Geroeste items is nou baie in die mode.
Annatjie Rademeyer (Landbou en Tuinbou) het gepraat oor watter neigings in 2010 vir tuine voorlê. Waterbesparing in die tuin is nou baie in en droogtebestande plante word al hoe gewilder. Klippies, gruis, tuinteëls en tuinornamente is gewild en geroeste items vir die tuin is ook in.
Judith Somers (Gesondheid) het 'n voedingkundige, Irene Labuschagne, gekry om te praat oor nuwe tendense in die dieet. As mens 'n gebalanseerde dieet volg, is dit nie nodig om voedingaanvullers te gebruik nie. Suiwel bly belangrik vir veral vroue omdat genoeg kalsium osteoperose kan voorkom. Kalsiumaanvullers is nodig as mens nie lief is vir melk nie. Omega 3 en Omega 6 olies is baie belangrik in die dieet. Drink steeds baie water elke dag!
Alta Waldeck (Kunste en Handvlyt) het 'n uitstalling van tokrien-artikels gehou. Dit is nou baie in die mode. Sy het kortliks vertel hoe dit gemaak word en later in die jaar gaan ons 'n werkswinkel hou.
Daarna het sy gepraat oor a capella sang wat ook nou baie in is, veral op die Afrikaanse ligte musiekfront. A capella groepe soos Navi Redd, Flip a Coin, Overtone (wat nou baie sukses in Hollywood behaal) en Cutt Glass word al hoe gewilder, veral onder jong mense.
Hanneke Potgieter (Opvoeding en Kultuur), het 'n baie interessante praatjie gehou oor die verskillende generasies en hulle kenmerke in ons samelewing. Sy het verwys na die Stil-generasie (gebore voor 2de Wêreldoorlog); die Babyboomers (gebore 1945-1960); Generasie X (gebore 1960-1980); Generasie Y (gebore 1980-2000) en die huidige Generasie Z wat na 2000 gebore is.
Ethel van der Walt (Openbare Sake) het gepraat oor die nuwe Verkeer-strafstelsel waardeur mens punte kry vir elke verkeersoortreding. As jy 12 punte het, verloor jy jou rybewys. 'n Inligtingstuk wat toon hoeveel punte jy kry vir verskillende oortredings is uitgedeel, bv. net een nommerplaat op 'n voertuig is 1 punt en R500 boete werd; praat op jou selfoon terwyl jy bestuur is 5 punte en R250 boete werd; oorskry spoedgrens van 60 km/h in stedelike gebiede 76-80km/h is 10 punte en R500 boete werd; bestuur onder invloed van drank en dwelms 6 punte en versyning in die hof werd, ens. Sy het ook gewys op die feit dat verkeersboetes wat per pos aangestuur word nie suksesvol is nie.
Daarna het almal heerlik vrugteslaai en roomys geëet en vrugtesap gedrink wat deur die gasvroue, Magdaleen Venter en Caretha Nel voorgesit is.