Posted on 22 March 2010

Britstown se tema vir Maart was "Mengelmoeskardoes" en elke sameroepster het die geleentheid gekry om 'n demonstrasie, praatjie of iets van haar eie keuse aan die vergadering voor te lê.

 

Die temas het gewissel van : "Hoe om strikkies met 'n stokkie te maak".  Voorlesing van 'n gedig  "Die Plaashek"  - hiermee kon die lede goed identifiseer. Die geskiedenis van Mrs Balls Chutney - ons moes proe tussen die ware Jakob uit die bottel en die oorspronklike resep en almal was dit eens dat die oorspronklike resep by verre die lekkerste is.  Ons is gewys hoe om iets alledaags in 'n meesterstuk te verander met Tokreen.  Interessante feite van diere is gegee en die tuintake vir Maart is onder ons aandag gebring.

 

Een praatjie het gehandel oor "Toilet Buddies" - dit is nou daardie bakterieë wat hul kan tuismaak in ons toilette. Siektes en toestande wat hierdie bakterieë en ander  "toilet buddies"  kan veroorsaak is: Velinfeksies,  Diphtheria,  Keelseer en verkoues, urineweginfeksies , nierinfeksies, Gastroënteritis, Herpes, Parasiete en in 'n klein mate, veneriese siektes.  Mense met 'n lae immuniteit is mees vatbaar vir hierdie kieme wat wegkruip in die bak, onder die sitplek, aan die spoelhandvatsel en die handvatsel van die deur van die toilet. Die grootste aantal kieme word versprei wanneer die toilet met 'n oop deksel gespoel word.  Hierdie kieme word in die lug in gesproei en kom oral te lande.  Dus, as jy die toilet spoel met 'n oop deksel, borsel jy waarskynlik tande met jou toiletwater.

 

Die beste produkte om toilette mee te was is enige skoonmaakmiddel wat ammoniak bevat. Dit sal 99.9% van die kieme dood. Waar daar 'n slegte reukie is, kan jy verseker wees is daar bakterieë.

 

Ander interessante navorsing oor die hoeveelheid bakterieë per vierkante sentimeter toon die volgende:

telefoon - 25 000

lessenaar - 21 000

rekenaar sleutelbord - 3 300

muis van die rekenaar - 1 700

toilet - 49

Die toilet blyk sowaar die skoonste plek te wees!

Comments are closed