Posted on 22 March 2010

Aberdeen, 10 & 11 Maart 2010.

 

Sirkel Middelland se 76ste Konferensie is vanjaar, midde ‘n hittegolf in die Karoo, op Aberdeen in die hartjie van die Kamdeboo-vlaktes aangebied. Dié klein dorpie,  circa 1856,  met sy 12 kerke en hoogste kerktoring (53m) in die land, het 25 jaar laas gasheer gespeel vir ‘n VLV Konferensie. Aberdeen-boorling, Gina de Beer, het die dorpie se geskiedenis, lief, leed en selfs ‘n bietjie skinder aan die konferensiegangers voorgehou.

 

Aberdeen tak, met net 12 lede, het met behulp van hul Intertak-groep (Steytlerville, Graaff-Reinet & Jansenville) die 17 takke se afgevaardigdes, dagbesoekers en gaste met ware plattelandse gasvryheid ontvang.

 

Sirkelpresident, Lynette Martin, het in haar presidentsrede erkenning gegee aan takke in die Sirkel wat met die “Ons aarde, Ons verantwoordelikheid” projek werklik ‘n verskil in hul gemeenskappe teweeg gebring het. Die sakelys is sonder moeite afgehandel en die sameroepers en gassprekers het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. Konferensie het ook tyd gekry om in gesprek te tree en takke het die geleentheid goed gebruik om by mekaar kers op te steek.


Die Konferensie het plaasgevind in die NG Kerksaal waar die mure met besondere kunspanele bedek is. Die Bybelse kunspanele, wat die verbondsgeskiedenis uitbeeld, is enersyds gemaak om die saal te verfraai en andersyds om die akoestiek te verbeter. Estelle Snyman, taakspanorganiseerder van die projek, het tydens Konferensie oor die besonderse panele, ontwerp deur Johanna Konig, gesels. Slegs die gesigte is geskilder en daar is net van materiaal, skaapwol en lym (sout, meel en water) gebruik gemaak om die 20 kunspanele te skep. Uniek en baie besonders.

  

 

Steytlerville tak het gesorg vir 'n baie spesiale teetafel!

 

 

Woensdagaand se dinee in die Aberdeen Klub was behoorlik ‘n juweel-besaaide aand. Behalwe vir die teenwoordigheid van Ere-Sirkelpresident, Helen Crouse, was twee vorige Juweelvroue, Duifie Barnard en Gerda Coetzee, ook gaste by die geleentheid. Gerda, Middelland se heel 1ste Juweelvrou, aangewys in 1997, was ook die aand se gasspreker. Sy is ‘n voormalige RSG omroeper , vryskut-joernalis en tans direkteur van die OKFO se musiekbeleggingsprojek.

 

Middelland se Juweelvrou vir 2010, Judy du Toit, het haar oorkonde vir diens aan die vroue, kinders en bejaardes van PE, tydens die dinee in ontvangs geneem. Haar lewensfilosofie, “om vir jou naaste te gee”, spreek duidelik uit haar onbaatsugtige diens aan veral die behoeftige en verarmde gesinne in Port Elizabeth-omgewing.

 

Die A. B. van Heerden Trofee vir die meeste kompetisiepunte in totaal, is vanjaar weer deur Alexandria tak verower. Jansenville tak het die 2de plek ingeneem en Rocklands tak het die derde meeste punte in totaal gehad. Kraggakamma tak het koning(in) gekraai in beide die Gebak en Handvlyt afdelings. Uitenhage tak het die Helen Crouse Trofee ontvang vir hul uitstekende bemarking van VLV met hul herwinningsprojekte. Acqua  het vir die 4de agtereenvolgende jaar die trofee verower vir die meeste nuwe lede. Die Annette Deyzel Projek Trofee het ook weer ‘n tuiste by Acqua gevind vir die tak se besonderse bydrae tot Bras, Beads & Bags.

 

Middelland se juwele - Lynette Martin, Judy du Toit, Gerda Coetzee, Duifie Barnard en Helen Crouse


Comments are closed