Posted on 23 March 2010

Die 77ste jaarlikse VLV Sirkelkonferensie van die Overberg is op 17 Maart op Bredasdorp aangebied.  Die ruim Opleidingslokaal van Overberg-Agri was die perfekte venue waar die sowat 120 VLV lede en waarnemers ontvang kon word en die kompetisie artikels van hoogstaande gehalte, keurig uitgestal kon word. 


 
Mnr Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Expo, was die gasspreker.  Hy het die Konferensie tema, "Reik na die Sterre", treffend toegelig deur aan die vyf punte van 'n ster vyf riglyne vir sukses te hang:
 
   1.  Kennis van jou organisasie/operasionele terrein
   2.  Spesiale aandag aan detail vir ekstra impak
   3.  'n Verrassingselement om belangstelling te behou
   4.  Almal betrokke moet ingesluit en belangrik voel
   5.  Ploeg terug wanneer jy jou merk gemaak het.


 
VLV Sirkel Overberg het "Reik na die Sterre"-toekennings gemaak aan Doreen Smal van Caledon, Wes-Kaapse Vroueboer van die Jaar vir 2009 in die afdeling Informele Markte, en S.D. Fourie van Gansbaai vir haar algemene bydrae tot die Overbergse skryfskat, en in die besonder vir die eerste prys wat sy in 2009 gekry het vir die RSG Sanlam Radiodrama kompetisie met "Droomskip".


 
Soma Viljoen van die Bredasdorpse Blomskool het gepraat oor geskikte plante vir 'n kustuin en gedemonstreer hoe dit dan in moderne rangskikkings gebruik kan word.


 
In haar jaarverslag en Presidentsrede het Hermien van Zyl, Sirkelpresident, die lede aangemoedig om VLVK se projek "Raak Rekenaarvaardig" te ondersteun en hul vaardighede op tegnologiese terrein op te skerp sodat VLVK relevant kan bly.   "In 2009 het ons die vaste fondamente waarop VLVK gebou is, herdenk met die 80-jarige viering van ons bestaan.  Nou beweeg ons aan en stel VLVK deur ons webwerf aan 'n groter groep bekend en bemagtig ons lede met nuwe vaardighede".


 
Marie Spamer, erelid van die Bredasdorp tak het die trofeë oorhandig. Bredasdorp was eerste, Kleinmond tweede en Villiersdorp derde. Jongensklip was vir die tweede jaar die wenner van die Presidentstrofee vir takprestasie.  Amore Botha, gr. 12-leerder van Hoërskool Overberg was die Sirkelwenner van VLVK se Tienerkok kompetisie en haar wenportefeulje gaan nou saam met die ander sirkelwenners s'n beoordeel word om te bepaal wie die vyf finaliste is, wat dit in die eindronde gaan uitkook.
 

 


V.l.n.r. Madelaine du Toit (Voorsitter Jongensklip tak en Sirkelsameroeper Landbou en Tuinbou);  Doreen Smal;  Hermien van Zyl (Sirkelpresident), SD Fourie en Annatjie Liebenberg (Sirkelsekretaresse/tesourier en Voorsitter Gansbaai tak)

      

Comments are closed