Aangesien die VLV oor baie meer as koek-en-teepartytjies gaan, het die saamroeper van die Kunste en Handvlyt vergadering, me.Adolene Nel, dit goed gedink om vir ons 'n besonders unieke kunsvorm aan te leer. Of ten minste het sy probeer om ons te leer, want ai! dit sit beslis nie in enigeen se broek, of liewer voete nie!
Me. Belinda Fisher is 'n klein vroutjie met 'n groot hart vir haar mense en hul kultuur. In 1998 het sy die bestaande rieldans-groepie wat op Calvinia was, onder vlerk geneem om hulle die fynere kunsies van dié besonderse tradisionele dans-styl te leer. Alhoewel sy nie self meer dans nie, rig sy deesdae 'n senior- en juniorspan af, en sien selfs kans vir die kleintjies ook.
Nadat hul uitsonderlike talent in 2007 tydens 'n optrede by 'n gemeenskapsgeleentheid raakgesien is, het die paadjie na sukses vir hulle ontvou. Slegs 'n jaar later, met hul heel eerste amptelike kompetisie-optrede, het hulle alreeds 'n trofee verower. Belinda het gou besef dat hulle iets unieks in hul danse sou moes inwerk om die beoordelaars se harte te steel, aangesien die kompetisie straf is en die ander deelnemers net soveel talent het. Sy het besluit om die groepies 'n "tema" te laat uitbeeld in hul danse, wat 'n nabootsing is van die werklike stories in die kultuurerfenis. Dit lyk asof sy die situasie goed gelees het, want hierdie tema-dansery laat die trofeë instroom. Soveel so dat hulle deesdae kan spog met die titel as Suid-Afrika se kampioen rieldansers!
Belinda het al meer as 50 kinders afgerig in hierdie besonderse dans-styl, die jongste daarvan maar 5 jaar oud. Gamat Julies, bekende musieklegende van Calvinia, begelei die spannetjie op sy kitaar, en selfs hy is al beloon vir sy harde werk met die David Kramer-trofee vir die beste riel-lied. Luister 'n mens so na hul afrigter, kry jy duidelik die boodskap dat hierdie maar nog die begin van groot dinge is vir ons eie Hantam-sitstappers. Want soos Belinda self sê: "Die kinders is bitter voorbarig, maar hulle gee regtig net hul beste!" En nadat ons hulle in aksie op daardie ligte voete gesien het, kan ons daarby byvoeg: hulle is bitter, bitter goed!
Dankbaar dat daar genoeg talentvolles in ons distrik is om dié tradisie te laat voortleef, het ons opgewonde geraak oor die musiek- en leeskringe wat vanjaar aangebied gaan word. Me. Marieta van Tonder het met groot smaak vertel van al die lekker en interessante boeke en temas wat voorlê. Sy sluit af met 'n aanhaling uit een van die besprekings-boeke van Chris Barnard - Oulap se blou:
"Jy kan 'n land se geskiedenis herskryf, maar jy kan dit nie verander nie. Ons het ontstaan uit stof...dalk moet jy eers stof raak om die land waarin jy leef, oplaas, van binne te leer ken."
JCB

Die groep rieldansertjies o.l.v. me. Belinda Fisher wat tydens die Hantam VLV se Kunste en Handvlytvergadering opgetree het. Nou weet ons ook inderdaad hoekom hulle kan spog daarmee om die nasionale kampioene te wees, want hulle is bitter goed!