Posted on
31 March 2010
Riaan Buys en Cassie Carstens van Overstrand Medical Response was die gassprekers tydens die Gesondheid portefeulje, o.l.v. Naomi Nel, se vergadering. Die dames was baie verras toe hul hoor van die wonderlike en noodsaaklike diens wat hierdie twee persone in die dorp en omgewing verrig. Hul kantoor is reg langs Doves Begrafnisondernemers in Hoofweg en u kan gerus daar gaan inloer en lid word van hierdie nooddiens.
Me Mariana Meyer van Quilt Creations in die White Sharkgebou te Dirkie Uysstraat, het ‘n uitstalling gehad van haar naaldwerk en spesifiek van haar pragtige laslappiewerke. Haar telefoonnommer is 0834684995 en u kan gerus daar gaan inloer en haar ondersteun.
Die verrigtinge is opgevolg deur ons Kuns en Handvlyt vergadering. Me SD Fourie is hier die sameroeper en haar gasvroue het die dames bederf deur die heerlikste koeke, wat geen kalorieë bevat nie, voor te sit met regte, egte moerkoffie. Me Carien Badenhorst was die gasspreker van die aand en het ook haar pragtige skilderye uitgestal. Sy en mnr HB Bester het ook ‘n kerslied, wat sy getoonset het nadat SD Fourie dit geskryf het, gesing. Die kerslied is ‘n deel van ‘n kersspel kompetisie wat die VLV Kaapprovinsie aanbied en waarvoor SD ingeskryf het. Ons is almal baie trots op hierdie befaamde VLV skryfster van ons en wens haar voorspoed toe vir die pad vorentoe. Me Marilé Geldenhuys van Gansbaai Boekwinkel, geleë in die Sportzone Gebou, het ‘n boekuitstalling gehad en het ook ses pryse geskenk aan gelukkige VLV dames.
Die jaarlikse VLV Sirkel Konferensie het vanjaar op 17 Maart te Bredasdorp plaasgevind. Mev Annatjie Liebenberg het vir die 5de agtereenvolgende jaar as sirkel sekretaresse die konferensie bywoon. Mevv Charlene le Roux, Esme van Deventer en Bertha Lambert het die tak as afgevaardigdes verteenwoordig.
Baie welkom aan ons nuwe lede wat aangesluit het, me Nonnie Geldenhuys, Rista Groenewald en Ronel Swart. Ons verwelkom ook me Mariana Meyer as VLV vriendin. Ons hoop hul sal elke oomblik van hul lidmaatskap geniet. Graag wens ons weereens al die dames van Gansbaai en omgewing uit te nooi om ons vergaderings elke eerste Dinsdag in die maand by te woon. Dit word in die NG Kerk se klein saaltjie gehou en begin 6.30 vir 7.00 nm. Hou asb in gedagte dat, a.g.v die skoolvakansie, daar geen vergadering in April sal plaasvind nie.
Mnr. H. Bester en Mev. S. Fourie
