Posted on 07 April 2010

Aangesien die VLV ‘n verskil in die gemeenskap wil maak, was Alida Vermeulen, sekretaresse van die plaaslike Toerismevereniging die spreker by die Maart vergadering.  Sy het saam met dr. Johan Loock, bekende geoloog verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, die distrik drie keer deurkruis ten einde verskillende toerisme roetes te kan saamstel.

 

Afgesien van ‘n roete, wat die geskiedenis van die distrik van 1730 tot vandag dek, is daar ’n hele roete met die Anglo-Boereoorlog as tema aangesien verskeie skermutselings rondom Murraysburg plaasgevind het en die internasionaal bekende boerehelde, Wynand Malan en Gideon Scheepers, diep spore in die distrik getrap het.  Verder vertel die grafte en begraafplase in die distrik hulle eie verhaal.

 

Dis ook interessant om die spore van ander volke en diere, wat vroeër in die distrik gewoon het, te volg. Name van klowe, plase, riviere en berge soos byvoorbeeld Tierkloof, Leeufontein en die Buffelsrivier bevestig dat hierdie diere algemeen hier voorgekom het. Vermeulen en Loock het ook die spore van avonturiers en ontdekkers gevolg en verskeie boeke en dokumente bevestig hulle bevindinge.

 

Ou opstalle en plaaswerwe werp lig op hoe ons voorouers geleef het, terwyl van die Boesmantekeninge, wat op verskeie plase aangetref word, heelwat oor die Boesmans   geleer kan word.  As dan nog in ag geneem word dat ou skuurklippe, fossiele, lawa en prehniet hulle eie verhaal vertel, is dit duidelik dat Murraysburg beslis veel het om aan die toeris te bied.

 

Mette Kromhout

Comments are closed