Posted on 14 April 2010

TYGERBERG 43

Datum :                   11 Maart  2010                                      Venue :       N.G. Kerk Oostersee, Parow
Gasvroutak :             Parow                                                   Spreker:      Wilna Adriaanse

 

Eregaste : Mevv. Margie Visagie, Tygerberg en VLVK erepresident ; Marieta van Eyssen, voormalige sirkelpresident ; Wilna Adriaanse, spreker ;  Steffi Brink,  sirkelpresident Paarl ; Adri Bell, Northlink Kollege ; en ds. Gert en mev. Aletta Olivier.

 

Mev. Marie Louw, Sirkelpresident, verwelkom  teenwoordiges en stel die gaste, ampsdraers en sameroepers aan die vergadering voor.

 

Ds. Gert Olivier lees uit verskeie skrifgedeeltes, met klem op Efesiërs 5:15 en Filipense 3:10, en vra na aanleiding daarvan hoekom ons nie al ons drome waar maak nie.  Hy gee as redes : vrees vir mislukking, uitstel van pogings om dit  waar te maak, vrees vir sukses en die daarmeegepaardgaande verantwoordelikhede. Om suksesvol na die sterre te reik verg totale verbintenis en baie opoffering.  Dit vereis dat ons onsself sal wees en risikos sal neem. Dat ons nie geleenthede sal verspil nie en sal vra wat die Here wil hê dat ons moet doen. God bring gebeurtenisse oor my pad om my geleenthede te bied en as ek alles doen asof vir die Here, sal ek suksesvol na die sterre reik. Ds Olivier doen ʼn gepaste openingsgebed. Mnr.  Willem Bester sing Song of Peace.

 

Na die konstituering van die konferensie verwelkom mev. Anna Bindemann, voorsitter van Parow, teenwoordiges.

 

Mnr Willem Bester bekoor die vergadering met sy vertolking van twee liedere van Robert Schumann, Bist du bei Mir en Widmung uit Myrten.

 

Die sprekers vir Openbare Sake, mes. Colleen Beck  en Lynette Milward van Kenridge Laerskool, is deur mev. Anna Bindemann voorgestel. Hulle praat oor die gebruik van rekenaars vir verskeie soorte projekte en doen ‘n powerpoint aanbieding daaroor.
 

Parow tak is 75 jaar oud en het konferensie genooi om ter viering hiervan ‘n gratis koppie tee en kolwyntjies saam met hulle te geniet. Mev. Margie Visagie wens hulle geluk en stel ‘n heildronk op die tak in. Sy steek ook ‘n 65-jaar diensknopie aan vir mev. Lydia Dempers, Parow.

 

Die gasspreker, Mev. Wilna Adriaanse, sy sê dat ‘n mens na die sterre kan reik deur bloot jou eie storie te deel met dié wat oor jou pad kom. Wanneer ‘n mens die resep van storiemaak op jou eie lewe toepas sal jy vind dat dit die alledaagse en onverwagse is wat die verskil maak en jou toelaat om hoogtepunte te beleef.  ‘n Mens moet let op die volgende storiekomponente in jou poging om jou eie storie betekenis te gee: 
Karakters – nie net die kleurvolles nie, maar ook die stilles in die hoek ; Illustrasies – na aanleiding van verskillende insidente wat nie net  glamour uitbeeld nie maar ook alledaagse sleur; Gebeure – vaal alledaagse gebeure gee vleis aan die bene. Klein oomblikke gee sin aan die lewe;Settings – Lewenservaring bepaal interpretasie van gebeure en dit neem dikwels net sekondes om iets waar te neem wat sin gee aan die hele opset. Die toets is om terug te staan en te kyk wat werklik gebeur het.‘n Mens moenie laer trek om jouself nie, maar uitreik.

 

Mev. Louw lewer haar jaarverslag en doen verslag oor sirkelaktiwiteite gedurende die afgelope jaar, tw. Twee werkswinkels, ‘n uittappie na die Christo Pienaar natuurtuin, herwinningsprojekte, boomplantings en die VLVK- 80 partytjie : Prinsesse, Polfye en Petits Fours, sowel as die Tygerberg Ekspo.Sy skets maniere waarop lede gedurende 2010 kan Reik na die Sterre : tw. deur hul gesondheid op te pas, hul talente uit te leef, hul verhoudings te troetel, finansieël gesond te leef, te leer om te gee, te leer om te vergeef, te leer om met dankbaarheid te leef en lief te wees vir hul Skepper.   VLV vroue wat reik na die sterre is vroue met Oemf! Mev. Louw bedank lede en die sirkelbestuur vir hul ondersteuning en hulp, toegewydheid en pligsgetrouheid.

 

Mev. Tuala Vorster, Landbou,  dra aan die vergadering God’s View on Grass voor.
 

Mev. Martie Jordaan, Naaldwerk, stel mev. Dorothy Lubbe van Dot’s Quilting, aan die woord.  Sy praat oor Suid Afrikaanse kwilttradisie en sê dat die VLV gaan oor deel en kommunikeer en dat Suid Afrikaners besondere mense is vanweë ons besondere omstandighede. Ons kwiltwerk beeld ons kultuur van beide die inheemse en die koloniale tradisie uit.

 

Mev. Joy van Rooyen, Opvoeding, stel mev. Mimmie Basson aan die vergadering voor.  Sy praat oor Reik na die Sterre soos van binne die verband van Suid Afrikaanse  kultuur en letterkunde, en wel aan die hand van verskeie Afrikaanse skrywers soos Breyten Breytenbach en George Weidemann.

 

Mev. Alet Colyn, Kunste en Handvlyt sameroeper, lewer ‘n praatjie oor verskillende soorte verhaalkuns.

 

Mevv. Caro Ekermans, Stellenberg, en Marinda du Toit, Kraaifontein, is onbestrede herkies tot onderskeidelik sekretaris en hulpsekretaris. Mevv. Ester de Bruyn, Durbanville, en Tarina Esterhuisen, Bottelary Koelenhof is onbestrede benoem as sameroepers vir Kunste en Handvlyt en Landbou. Mevv. Ema Strydom, Welgemoed, en Hester Geringer, Durbanville, is tot die poste Openbare Sake en Naaldwerk verkies. Mev. Louw wens die betrokke dames geluk, bedank uittredende sameroepers, mevv. Anna Bindemann, Alet Colyn, Martie Jordaan, en Tuala Vorster, vir hulle dienste gelewer oor die voorafgaande drie jaar en oorhandig aan elkeen ‘n bos blomme.

 

Mev. René Stander trakteer teenwoordiges op 2 geestige voorlesings uit boeke van Madelein van Biljon.

 

Mev. Marieta van Eyssen neem die oorhandiging van Trofeë waar  en wens wenners geluk met hul prestasies
Die trofee vir die meeste punte word gewen deur Goodwood, die Ledewerwingtrofee deur Goodwood, die Presidentstrofee vir Takprestasie deur Goodwood en die Margie Visagie Trofee vir die mees uitstaande artikel op konferensie deur Yvonne Bezuidenhout van Kuilsrivier vir haar geweefde paneel.

 

Caro Ekermans,
SIRKELSEKRETARIS

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Comments are closed