Posted on 20 April 2010

Die vasskop van die rekenaar in ons lewens, het 'n nuwe wêreld vir ons laat oopgaan.  Maar enigeen wat al vir langer as 'n uur voor die skerm vasgenael was, kan daarvan getuig dat daar ook 'n eina kinkel in die kabel bestaan - twee groot vyande genaamd hoofpyn en, onvermydelik, rugpyn.  En, alhoewel die verskillende terapeute deesdae oorval word met die skete van ons tyd, kan dit dalk net lonend wees om 'n slag jou fisioterapeut te besoek. 

 

Sanet Myburgh is alreeds vier jaar 'n fisioterapeut by Abraham Esau Hospitaal op Calvinia.  Sy het vir die Hantam VLV dames, tydens die Gesondheidsvergadering, o.l.v. Louise Brynard, verduidelik dat fisioterapie nie slegs die behandeling van seer spiere en rugpyne behels nie, maar dat 'n veel wyer veld gedek word.  Sy benadruk dat dit nie nodig is om elke dag met ondraaglike pyn te probeer saamleef nie; dat die fisioterapeute regtig kan help, hoe klein jou skeet ook al mag voorkom. 

 

Dit is natuurlik die ideaal om eerder voorkomend op te tree, en daarom moedig Sanet enigeen aan om die fisioterapie-afdeling te besoek, selfs al het jy nog nie pyne of skete nie, om sodoende inligting in te win vir o.a. goeie postuurgewoontes. 

 

'n Fisioterapeut is 'n eerstelyn-praktisyn, daarom is dit onnodig om deur 'n dokter daarheen verwys te word.  Sanet verduidelik dat dit belangrik is om alreeds 'n fisioterapeut te spreek, wanneer jy bewus word van 'n klein foutjie of pyn, sodat die behandeling daarvoor onmiddellik kan begin. Sodoende word onnodige akute pyn en ongemak verminder.


 
Aangesien ons in die era leef van kitsoplossings vir al ons probleme, verwag die meeste mense ongelukkig dat hulle skete moet verdwyn na slegs een behandelingsessie by 'n fisioterapeut.  Die verlangde resultate sal egter eers na drie tot vyf sessies verkry word.  So, as jy al by die punt van chroniese pyn verby beweeg het, maak jou maar reg vir 'n lang en innige verhouding met jou fisioterapeut.  Maar moenie bevrees wees nie - dit mag dalk net 'n lewensomkeerbare verhouding wees, een waarvan pyn nie meer sal deel wees nie.  En vir die enkele gelukkiges wat nie weet waarvan ek praat nie, het jy al gehoor van ons fisioterapie-afdeling se gewone rug- en nekmassering sessies?  NIE??  Het jy werklik nog nie onder hul pamperlang deurgeloop nie??? 

 

Wel, vind vandag nog daaroor uit, maar wees gewaarsku!  Dis erg verslawend...

 

JCB 

 

Tydens die pas afgelope Konferensie van Sirkel Namakwaland, het Hantam VLV die trofee vir die tak met die vyfde meeste punte ontvang.  Me Janine Brynard ontvang twee trofeë vir die Boekbespreking en Handvlyt-afdeling, en me Riana van Niekerk een vir die Snoepery-afdeling.  Me Adolene Nel ontvang hier die tak se trofee, en sy het ook goeie uitslae gekry vir haar inskrywings.

 

Comments are closed