Posted on
03 May 2010
Porterville se lede het 2010 met ‘n groot verskeidenheid ervarings afgeskop. Ons tema van die jaar is beklemtoon deur ds. Cornie van der Merwe wat as spreker die volgende in ons midde gelê het: Met die krag van die Gees van God kan ons na die sterre reik en dit bereik. Leef in liefde sodat jy ander kan dien en hul lewe verryk.
Tafels was versier met spesifieke soort lekkers in mooi lang glasvase. Elke lid het met haar aankoms ‘n kaartjie ontvang met ‘n prentjie van ‘n lekker. Sy moes dan by die tafel gaan sit met die soort lekker soos op die foto aangedui. Dit was nogal pret om lede ‘n bietjie te skommel en mekaar ook beter te leer ken.
Op ‘n ernstiger trant het mnr. Johan de Lange van Kaap Agri, die prys en produksiekoste van koring verduidelik en mnr. Marius Kieck van CARA, bespreek indringerplante en die verwydering daarvan, asook die skoonmaak van ons vleilande vir natuurbewaring. Boetes kan opgelê word indien ‘n persoon na ‘n waarskuwing nog nie sy indringerbome verwyder het nie.