Posted on
04 May 2010
Ons Openbare Sake-vergadering in April is gelei deur Betsie Vollgraaff. Sy het die saal pragtig versier met rooi granate en kerse. Met hul skakerings van rooi en bruin, is ons deeglik bewus dat dit herfs is.
Ons voorsitter Leana van Wyk het haar lede geprys vir die mooi prestasie tydens die onlangse Sirkel Konferensie te Calvinia waar ons die 3e beste presteer het. Sy herinner ons aan ons leuse; “Reik na die Sterre” – en sy moedig ons aan om na Jesus te reik – Hy is ons “Helderste Ster”.

Die dames wat die meeste punte ingepalm het op die Konferensie se pryse word oorhandig:
1e Prys is Mollie van Wyk (86jr!!)
2e prys : Lenie Theart
3e Prys: Leana van Wyk
Baie geluk! Ons is trots op julle!

Lenie, Leana en Mollie
Wanneer is ‘n mens oud? . . . . . . wanneer jy nie meer iets nuuts wil leer nie.
Ons dames by die VLV wil JUIS iets nuuts leer – daarom is ons hier! Ons het besluit om (aldus oom Oubaas) die rekenaarmuis by die horings te pak en met ons eerste rekenaarles begin.
Irma van Niekerk het ons lus gemaak vir meer, nadat sy ons vertel het wat ‘n mens alles met ‘n rekenaar kan doen. Van speletjies tot banksake, e-pos, Skype, Facebook, Google, Twitter om maar ‘n paar te noem. Die internet is ‘n wêreldwye netwerk waar feitlik enige inligting onder die son bekom kan word met die druk van ‘n knoppie.
Mnr André van der Colf van Loeriesfontein het die dames toegespreek oor Alkoholisme en Alkoholmisbruik. Hy het vertel dat drank die algemeenste verslawingsmiddel en ook verdowingsmiddel is. Drank verdoof – maar mense DINK dit laat hulle ontspan. Om dieselfde gevoel te kry moet mense later meer en meer drink. Dit raak dus gewoontevormend.

Oudergewoonte sluit die dames die middag af deur heerlik saam te kuier om ‘n koppie tee en heerlike eetgoed. Die dames het ook die marktafel ondersteun waar ons skenkings maak ter stywing van ons fondse.
Tot volgende keer... IvN
.jpg)