Posted on
05 May 2010
Murraysburg se Aprilvergadering was 'n potpourri-vergadering in die ware sin van die woord. Adjudant-offisier Seadrust van die plaaslike polisie het gesels oor landelike beveiliging en deel sinvolle wenke ten einde misdaad te voorkom en teë te werk met die teenwoordiges. Sy verskaf belangrike telefoonnommers en vertel van die projekte, wat die polisie aanpak, om die landelike misdaadprobleem hok te slaan.
Wilna Pienaar moedig die lede aan om kreatief te dink en ou goed, wat êrens weggebêre is, op te diep en vir iets nuuts te gebruik. So kan ou kantgordyne gebruik word om lampskerms te maak. Sy wys dan ook pragtige kussings, gemaak van sogenaamde weggooigoed. Sy moedig die lede aan om van hulle ou erfstukke na die volgende vergadering te bring en die storie met almal te deel.
Trourokke van nege van die lede en hulle kinders en kleinkinders is vertoon terwyl Hermien Botha die troumars gespeel het. Baie spesiaal was die rokke van Dorees Pienaar en haar kleindogter, wat onlangs getroud is. Al verander die modes, bly 'n mooi trourok pragtig!
Hannelize van Heerden se sokkervasvra was natuurlik heel gepas en het van die dames besef dat hulle kennis van sokker, veral van die reëls van die spel, binne die volgende weke beslis nog opgeknap moet word, indien ons wil deel wees van die Wêreldbekertoernooi, wat ons land aanbied.
Voordat daar heerlik tee gedrink en gekuier is, het Nonsie Hattingh die dames daaraan herinner dat die Karoowinters, net soos die somerson, baie skade aan die vel kan aanrig. Haar praatjie oor velsorg en die produkte van Justine, was dan ook baie interessant en 'n goeie afsluiting vir 'n prettige en interessante vergadering.