Posted on
10 June 2010
Woensdag die 2de Junie het die Britstown VLV 'n fotografie dag vir beginners gereël vir belangstellendes uit die distrik. Al wat nodig was, was 'n digitale kamera en 'n belangstelling in fotografie.
Clivè Burger, Redakteur van GWK se nuusblad en professionele fotograaf, het al die pad van Jakobsdal gekom om die groep van 22 ywerige dames te help op hul pad van amateur fotografie. Lee Taylor, 'n grafiese ontwerpster, ook van Jakobsdal, het haar vergesel om te help met die tegniese versorging van elkeen se kamera.
Woorde en uitdrukkings soos "Program", "Aperture", "Exposure", "F/22", "Shutter Speed" en "ISO" het skielik betekenis gekry. Meeste van die dames was verstom wat hulle kameras alles kon doen. Uiteindelik het die knoppies op die kamera sin gemaak.
Nadat al die tegniese terme onder die knie was, was daar 'n geleentheid om hierdie nuwe vaardighede op die proef te stel. Die dag is afgesluit met die rekenaarversorging van foto’s en 'n vinnige kykie na wat 'n rekenaarprogram als vir jou foto’s kan doen. Te gou was die dag verby en elkeen het hul gehaas om die sonsondergang vas te vang met hul nuutgevonde kennis.
Berig deur Rina Coreejes.

Clivé Burger en Sunel van Rensburg.

Fotografie was nog nooit so lekker nie!