Posted on 21 June 2010

Ons is vriendelik by die deur ontvang en elkeen het ‘n sakkie met vars lourierblare gekry.


Jonge Hélène Coetzer met ‘n vriendelike welkom-glimlag. Wie sal nou nie ‘n VLV vergadering geniet as jy só welkom geheet word nie.

 

 

 

Die koue wintersdag begin met ‘n praatjie oor speserye. Hierdie tyd van die jaar soek ‘n mens die warm geur van speserye in dit wat jy eet of drink. Berg altyd jou speserye in ‘n glashouer met ‘n digpassende deksel op ‘n koel donker plek, en nie langs die stoof nie. Wil jy jou melktert “opdollie”? Kook die melk met ‘n paar gebreekte kardemomsade en suig deur, sprinkel kaneel en ‘n bietjie neut oor die melktert en bak. Gebruik kardemom in ‘n maaskaas nagereg - dit is heerlik en iets heeltemal anders. Gooi ‘n knippie kardemom in ‘n koppie warm swart koffie of tee. O! die geur vul jou van binne. Garam Marsala en Hoender Breyani resepte word uitgedeel.

 

Na spyse en drank volg ons huis. Jou huis is jou koninkryk. Die eerste gewaarwording wat iemand van jou huis kry is die reuk. Sit iewers laventel in ‘n vaas neer of touballe wat gegeur is. Kies die geur waarvan jy hou, nie Annie of Sannie se geur nie, maar jou eie. Na geur volg kleur. Jy het jou eie besondere kleur voorkeur. Maak ‘n fokuspunt in ‘n vertrek met hierdie kleur en onthou dit is winter, gebruik warm kleure. Teksture is ook belangrik. Gebruik grof, sag en syagtige teksture in warm kleure.

 

Laastens het ‘n huis warmte nodig en dit gee jy met jou vriendelike gasvryheid. Onthou dit is jou koninkryk.

 

‘n Uitstalling van Delft porselein, ‘n tafel gedek vir ‘n deftige aandete of troue en ‘n uitstalling oor Mars rond hierdie vergadering mooi af.

Comments are closed