Posted on 22 June 2010

Citrusdal se Landbou & Tuinbou vergadering is deur Minette du Toit geopen.  Hierna is al die formele verrigtinge afgehandel.  Desiré Smit het vir ons 2 pragtige viool items gelewer. Onder andere was die tweede item Salu D’More van Algo.  Van ons ouer lede sal hierdie stuk onthou as die Mrs Ball’s advertensie se kenwysie. 

 

 

Ons gasspreker was Susan de Kock.  Met haar graad in Natuurbewaring werk sy vanaf ‘n tuiskantoor en het al van die Kaap tot by die Namibiese grens, sowel as in die Karoo, werk verrig.  Sy werk baie nou saam met die Departement van Landbou met betrekking tot bewaring.  Dit behels dat sy impakstudies doen op gedeeltes van landbougrond waar nuwe aanplantings of selfs pakhuise beoog word. Natuurlike veld raak minder en meer bedreig. ‘n Voornemende kliënt kontak haar en sy doen dan die impakstudie. Dit behels ook dat sy saam met ‘n Botanis die grond besoek. Indien daar bedreigde of miskien nuwe spesies ontdek word, beteken dit dat die boer nie die grond sal kan ontwikkel nie.  Sy het ook melding gemaak van ‘n nuwe omgewingsbewaring wet wat nou beskikbaar is en wat ontwikkelings op sensitiewe areas beperk. 

 

Ons voorsitter, Marlene Dirkse van Schalkwyk, het elkeen bedank vir haar harde werk tydens ons jaarlikse snoekbraai wat teen einde Mei plaasgevind het.

 

Uitstallings is gehou deur Openbare Sake: padtekens, Landbou & Tuinbou : boeke oor inheemse blomme en bome.  ‘n Gelukkige trekking is gehou. Ons almal moes dan ook tydens hierdie vergadering “outyds” aantrek en daar is heerlik gelag vir party uitrustings. 

 

Ons 5 minute praatjie deur Kuns en Handvlyt het gehandel oor ‘n lewenskets van die skilder Dawid Botha. Hy is ‘n skilder en grafiese kunstenaar. Sy skilderye word gekenmerk deur straattonele van die Kaap en Stellenbosch omgewing, asook stillewe.  Hy doen ook linosnee werke.

 

Ons sekretaresse lees vir ons uit ou notule boeke voor. Onder andere is daar met elke vergadering ‘n item gelewer, soms sommer 2!  Baie sang solo’s, klavier solo’s en duette, boekvoorlesings, voordragte en vasvrae was gereeld op die vergaderings gehou. Demonstrasies deur onder andere Nestlé, Sasko en Vleisraad het ook plaasgevind. In 1972 is selfs ‘n wynproe aand gehou. 100 Kaartjies teen 50c elk is verkoop ten bate van VLV Citrusdal se eie kas.

 

Ons het afgesluit met ‘n heildronk op ons tak se 79ste verjaardag.

 

 

Berig deur Minette du Toit.

 

 

 

 

Drie Lede geklee in hul "oytydse" uitrustings.

 

  

 

Desiré Smit

Comments are closed