Op 13 Julie 2010, het Irma Joubert ‘n bekende skryfster, die Douglas VLV tak besoek.
Irma Joubert woon buite Bloemfontein saam met haar man, Jan. Sy is ‘n afgetrede onderwyseres, en het na haar aftrede as beroepskrywer begin skryf. Sy het reeds op 18 begin skryf, en is tans besig met haar sewende boek.
Die stories wat sy vir haar boeke gebruik, kom uit die lewe self uit. Sy sê dat sy nie haar verbeelding gebruik nie, maar die stories wat uit die lewe kom, omdat die lewe vol stories is. “Elke mens, dorp en ding het ‘n storie.” Sy gebruik feite (stories wat sy as die waarheid aanhoor) as die raamwerk van haar boeke, en weef dan fiksie daarin. Later glo mense die fiksie.
Wanneer sy skyf, leer sy eers die karakters ken. Hul woon saam haar in die huis, en sy hoor hul praat wanneer sy onderhoude voer. Later ken sy haar karakters so goed, dat sy hul stories as die waarheid skryf.
Haar eerste twee boeke was ligte liefdesverhale oor hedendaagse mense. Hierdie boeke het sy geskryf uitsluitlik om bekend te raak, en om mense aan haar skryfstyl bekend te stel. Daarna het sy historiese liefdesverhale begin skryf. Hierdie verhale is gebaseer op verhale wat sy gehoor het, en wat sy dan haar eie gemaak het.
Van haar boeke is:
• Veilige hawe
• Verbode drif
• Ver blink die Suiderkruis
• Tussen stasies
Haar nuwe boek, Pérsomi, kan in Oktober verwag word.
Wat 'n voorreg was dit nie, om vir Irma Joubert, as spreker te kon leer ken. Ons hoop sy sal ons gou weer kom verras.
In die foto is Irma Joubert links, en Anneline Swiegers regs.
