Posted on 22 July 2010

VLV Cradock het hul 80ste verjaardag met 'n aanskoulike mode- & musiekoggend gevier.  Die geleentheid is in die Cradock-Oos Kerksaal gehou, en André Malan, befaamde historikus en mode ontwerper uit die omgewing het as gasspreker by die geleentheid opgetree. 

 

André het talle uitrustings geskep om modes van toentertyd uit te beeld. Presiese replikas van rokke wat hy op familie- en museumfoto's gevind het, is gemaak en die modelle het die rokke vertoon, terwyl André die geskiedenis en era van die rokke geskets het en soms ook staaltjies rondom spesifieke uitrustings vertel het.  Agtergrondmusiek is deurentyd gespeel, en terwyl die modelle verklee het, het Willa Robinson en Emmie Marais musikale verposings verskaf met klavier en sangitems. 

 

Die geleentheid het die vorm van 'n formele noenmaal aangeneem. Elke VLV lid op Cradock het as gasvrou van 'n tafel opgetree en 10 gaste elk genooi. Hierdie geleentheid val ook saam met die fondsinsamelingspoging wat deur Sirkel Cradock van stapel gestuur word om fondse te in vir hul kongresbeurt wat teen 2014 aanbreek. 
Vanuit Sirkelgeledere was Teresa Opperman, visepresident, deur Ria Meyburgh, Voorsitter Cradock tak,  as eregas genooi om ook die geleentheid by te woon. Die modelle het ongeag die koue en sonder om te bibber of te beef, hul prag uitrustings met selfvertroue en swier vertoon.

 

 

André Malan, historikus van Cradock saam met Poppie Coetzee, VLV lid van Cradock, tydens hul Mode- en Musiekoggend wat onlangs gehou is, en waartydens André as gasspreker opgetree het en sy modeskeppings vertoon is.

 

 

 

Cradock VLV lede tree op as modelle vir die reeks kledingstukke gemaak deur André Malan.

 

 

 

 

 

Comments are closed