Posted on 22 July 2010

Mev. Elize Havenga, ’n lid van Colesberg tak, het onlangs namens die VLV ’n praatjie met die matrieks gehad ter voorbereiding van die Matriekafskeid. Sy het spesifiek met die dogters gepraat oor die keuse van die regte rok en bykomstighede vir hierdie spesiale geleentheid. Daar is ’n paar belangrike punte wat in gedagte gehou moet word.

  • Finansies
    Gesels eers met jou ma en pa oor die koste van die rok. Dit is nie nodig om die duurste rok te koop om baie mooi te lyk nie. Onthou dat ’n ontwerper baie duur is.
  • Keuse van patroon en materiaal 
    Die patroon, jy en die materiaal moet by mekaar pas. As jy ’n prentjie gesien het, onthou dat jy nie presies soos op die prentjie kan lyk nie, want dit is nie jy nie en jy is nie gebou soos die vrou op die prentjie nie. Die kleur van die rok is baie belangrik.  Jou eerste keuse moet wees die kleur waarvan jy die meeste hou en dit moet pas by jou geaardheid. As jy nie ’n ekstrovert persoonlikheid het nie of nie daarvan hou om in die kollig te wees nie, moet jy bv. nie ’n bloedrooi rok aantrek nie. Sorg dat jy ook ’n tweede en derde keuse het, want ’n mens kry nie altyd presies wat jy soek nie.   Dink ook aan praktiese dinge, bv. dat dit moeilik is om te sit met ’n baie wye feetjierok. Die rok moenie op die grond sleep nie, want ’n mens trap dit maklik vas en dit verniel baie. Onthou dat dit nie jou trourok is nie, so dit is goed as jy die rok weer agterna kan dra. ’n Goeie idee is om twee rompe by ’n toppie te laat maak, ’n lange en ’n korter een, dan kan dit weer later vir verskillende geleenthede gebruik word.
  • Bykomstighede
    Moenie baie hoë skoene dra as jy sukkel om daarmee te loop nie. Die skoene moet by jou voete pas. Moenie juweliersware kies voordat jou rok klaar is nie, want jy weet nie wat by die rok gaan werk nie. ’n Handsak is nie regtig nodig nie en is dikwels ’n relatief duur item. As jy graag ’n handsakkie wil dra, koop liewer ’n goedkoop een en versier dit self met kraletjies om by jou rok te pas.
  • Hare
    Kleur jou hare lank voor die tyd as jy dit oorweeg, want die kleur het ’n invloed op hoe jy in die rok lyk. ’n Ander kleur as waarmee jy oorspronklik die rok se kleur gekies het, werk nie altyd nie. As jy bv. krulletjies wil dra, moet dit by die rok werk.  Toets vooraf verskillende style uit en kyk wat werk die beste by jou rok.

 

Die dogters het die praatjie baie geniet en sommige het reeds agterna weer vir mev. Havenga gekontak om nog raad te vra. Ons glo hierdie praatjie sal help om hulle aand baie spesiaal te maak.

Comments are closed