Posted on
18 August 2010
Britstown VLV is deur Marlene van Aswegen van De Aar bemagtig om te weet wat met hul liggame gebeur na 40. Sy het klem daarop gelê dat dit JOU liggaam is, en dat JY verantwoordelikheid moet en kan neem van jou gesondheid. Natuurlik kan daar faktore ontstaan waaroor 'n mens nie beheer het nie, maar dan is jy nog steeds in staat om dit te beheer in 'n groot mate. Hoekom sleg voel, as dit nie nodig is nie? Hoekom sukkel as dit nie nodig is nie? Daar is so baie inligting beskikbaar oor enige moontlike gesondheidsprobleem. Gebruik dit. Dan is dit so belangrik om gereeld 'n draai by jou dokter te maak om seker te maak dinge is nog klopdisselboom.
Die grootste frustrasie en aanpassing is sekerlik jou metabolisme wat stadiger raak en die aanpassings wat dan gemaak moet word in jou leefstyl. Maak jou aanpassings en eet gesond, dit gaan jou beslis baat op die lange duur. Vitamien aanvullings is goed, maar wees versigtig vir 'n oordosis. Maak seker dat dit wat jy in jou mond sit vir jou liggaam van waarde is.
Menopouse is 'n werklikheid, maar'n dokter sal jou help om vas te stel waar jou estrogeenvlakke lê. Dit word met 'n bloedtoets bepaal. Daar is baie middels wat hierdie fase van jou lewe baie makliker kan maak. Dit is ook belangrik om gereeld bloedtoetse te doen om hierdie vlakke in jou bloed te monitor en dan aanpassings te maak as dit nodig is.
Dis belangrik dat jy jou familie geskiedenis moet ken, sodat jy op die uitkyk kan wees vir moontlike gesondheidsprobleme soos, bloeddruk, diabetes, kanker, hartsiektes, osteoporose, ens. Dis ook moontlik om 'n genetiese toets te doen om te kyk of jy wel vatbaar kan wees vir sekere siektes.
Gereelde papsmere, borsondersoeke en mamogramme is ook noodsaaklik. Jou skildklier is baie belangrik vir die afskeiding van hormone en as dit nie reg werk nie, kan jy baie ellendig voel.
Om jou medikasie reg te gebruik en gereeld te drink is ook van belang vir jou algemene welstand. Marlene het verduidelik wat hoë bloeddruk is en wat die uitwerking daarvan op jou liggaam is. Om jou medikasie ongereeld te gebruik plaas soveel stremming op jou hart en bloedvate en is 'n groot gesondheidsrisiko vir jou.