Posted on 30 August 2010

Kaptein Stephanie Smit, Konst. Monica Bouwer hier saam met Estelle Kruger, sameroepster van Openbare Sake by Hofmeyr VLV
 

Tydens die onlangse VLV vergadering wat op Hofmeyr gehou is, het Kaptein Stephanie Smit van Cradock SAPD die dames kom toespreek oor veiligheid in en om die huis en plaas.

 

Almal weet hulle moet omsien na hul veiligheid, maar die reëls word nie altyd toegepas nie.
Omhein eerder jou eiendom as om 'n muur daarom te bou - jy kan nie anderkant die muur sien nie.  Sorg vir goeie veiligheidshekke by alle ingange na die erf en na die woning.  Moenie waardevolle artikels voor vensters bêre nie.  'n Loergaatjie of veiligheidsketting by jou ingange verleen jou net meer tyd in 'n noodgeval. 

 

Op plase is ganse van groot nut, en honde kan oral handig te pas kom om te beskerm.  Hou altyd 1 goed opgeleide hond binnenshuis.  Klein hondjies het skerp gehoor, en kan goeie waarskuwers wees. 

 

Sorg vir deeglike beligting buitenshuis - belig sodat van binne na buite gesien kan word, en nie van buite na binne.  Wees versigtig vir skaduwees en blinde kolle waar skelms kan wegkruip. 

 

As jy uitgaan, sluit alle toegangsroetes toe.  Kom ooreen met bure oor jou planne.  Plaas- en tuingereedskap met toegesluit word, en die sleutel buite bereik gehou word, en die kluis se sleutel moet aan jou liggaam geberg word. 

 

Verander gereeld jou daaglikse roetine - ons word dopgehou.  Hou altyd 'n flits langs jou bed- met 'n vol stel batterye.  Skuif gereeld die meubels, sodat die beddens nie altyd op dieselfde plekke staan, en sorg dat vensters dig toemaak met gordyne saans. 

 

Rapporteer vreemdelinge in die omgewing aan die polisie - en hou foto's en kopieë van ID's van werknemers.  Beloon inligtingverskaffers.  Moenie 'casuals' of vreemdelinge in jou huis of werf toelaat nie en wees versigtig as werkers van Eskom of Telkom jou besoek - vra vir 'n aanstellingskaartjie. 

 

As jou huissleutels vermis raak, vervang alle slotte.  Moenie aan huiswerkers toegang tot jou sleutels gee nie. 

 

Moenie jou vuurwapen as 'n eenheid bêre nie, maar haal dit uitmekaar. 

 

Sorg dat jou voertuig altyd 'n vol tenk brandstof het as jy op 'n lang roete gaan, en sorg dat dit in 'n goeie toestand is.  Bestuur met die deure en vensters gesluit.  'n Spieël in jou motorhuis help jou om te sien of daar iemand agter jou motor vir jou wag.  As jy na 'n stad reis, weet waarheen jy gaan. 

 

Moenie uitklim terwyl die sleutels in die aansitter is nie.  Hou jou sleutels in jou hand as jy met pakkies na jou motor stap en wees versigtig as daar te veel omstanders is wanneer jy pakkies in jou motor laai.

 

Moenie braaf wees nie - gee aan skelms wat hulle wil hê, eerder as wat hulle jou lewe neem.  Wanneer daar ingebreek word, word daar in 95% van gevalle vroue verkrag - moenie 'n slagoffer word nie.

 

Hou altyd noodnommers byderhand - op jou foon en by jou foon tuis.  Ook in jou voertuig - in 'n krisissituasie vergeet 'n mens maklik baie belangrike nommers.

 

Comments are closed