Posted on 13 September 2010

Jamestown tak se Landbou saamroeper, Lucia Lieberum, het 'n pragtige uitstalling van boeke en inligting gehad, asook pasella plante! Sy het Ronel van Zyl, tuinboukundige by die Munisipaliteit van Queenstown, aan die woord gestel om te praat oor verskeie tuinaangeleenthede en demonstrasies te gee van hoe om kompos te maak en om saad in 'n saadkassie te saai (met 'n laag klippies heel onder, dan laag blare, dan potplantgrond - goed vasgestamp en laaste water oorgespuit).

 

Tuinwenke
• Miere: Maak 'n emmer halfvol met als-blare en vul emmer met kookwater. Laat oornag staan. Verwyder blare en voeg 3 K asyn + 1 K waspoeier by.
• Om grond se pH te verhoog/soet te maak: Voeg Landboukalk by.
• Om grond se pH te verlaag/suur te maak (bv. vir hydrangeas, katjiepiering, azaleas, conifers, camellia en bottlebrush): Voeg Blomswael, Ystersulfaat, Veenmos, Dennenaalde, of Blaarkompos by.
• Om 'n OU tuin op te knap: Werk kraalmis en kompos in die lente en herfs in. Dien ook superfosfaat en kunsmis (2:3:2) toe teen 60g/m². Behou 'n goeie deklaag. NB: Maak grasperk eers nat vóór kunsmis gestrooi word.
• Beheer plantluise en rooispinnekop: Gooi 2 K kookwater op 2 handevol kappertjieblare. Laat staan vir 15 min. Verdun 10 druppels van hierdie "tee"  met 1 liter water en spuit die plante.
• Beheer snywurm, bolwurm, vrugtevlieë, roes en meeldou: Maak 'n konsentraat aan deur 2 liter kookwater oor 300g vars of 30g gedroogde Absint of Wurmkruid te gooi. Laat 15 min. trek en syg deur. Verdun 20 ml konsentraat met 1 liter water en spuit plante.
• Vergruisde eierdoppe is goed vir 'n komposhoop.
• Om 'n bougainvillea te snoei: Sny lang lote in Aug. terug tot by 5de knop vanaf hoofstam en sny takkiesrige groei ook uit. Blomme groei aan ouer hout.
• Ronel het 'n aantal voëls opgenoem wat 'n mens na jou tuin kan lok om goggas te bekamp, bv. Hadedas, Swaels, Kiewiete, Hoephoep, Laksman, Ooruil, Lysters en Glasogie.
• Bamboespalm se punte word bruin, omdat lug te droog is (sproei nat), of a.g.v. oorbenatting.
• Om snyblomme langer in vaas te laat hou: Voeg 1 TL Alluin + 1 TL Engelse sout in 2 liter water.
• Om rose langer te laat hou: Gooi 1 DL suiker + 1 TL Jik + 1 TL witasyn by 2½ liter water.
• Luise op Konifere kan met sterk-aangemaakte witasyn bespuit word. Dit kan ook op aarbeie gebruik word. 

 

Verskeie vrae is behandel en wenke is ook onderling uitgeruil. Lucia het ook natuurlike wenke gegee vir hoofpyn: bv.
• Vryf Laventelolie aan jou slape;
• Neem 10ml heuning saam met maaltye;
• Maak 'n tee van 250 ml kookwater op 5 ml basilliekruid, kamille, ment, OF roosmaryn, en drink.

 

Ten slotte het sy die vlg uitgedeel:

 

Mag jy 'n vrugtige dag hê!
Moenie Komkommer nie.
Sing 'n Litchie vir die Heer. 
Jy is Sy Uie kind - Sy oogappel.
Laat jou Kersie vir Hom brand.
Want, so by my Kool, die Here sal jou op-Raap en bewaar
Al is jou naam Pieter of Sielie - Hy sal nooit Rissie.
In Sy arms het Hy jou Beet, met Sy liefde be-Aarbei Hy jou
Al is jy soms 'n harde Koejawel
Sal Hy jou nie uit Sy hart Skorsie
Daar is jy vir altyd inge-Wortel!

 

Op die foto is :

Van links Hilda v/d Walt (voorsitter), Ronel van Zyl (Tuinboukundige van Queenstown Munisipaliteit), en Lucia Lieberum (Saamroeper Landbou) by 'n saadkassie waarin saad gesaai is en later uitgeloot is.

 

 

 

Comments are closed