Die VLV tak van Villiersdorp het met die Landbou & Tuinbou vergadering in September aan beide Nasionale Boomplantdag en Nasionale Erfenisdag aandag gegee. Ses Witkaree bome (Rhus pendulina) is op die Skouterrein geplant, danksy die kundige advies van John Ashbury, plaaslike kweker van inheemse bome en Edu Roux, voorsitter van die Skouvereniging wat gesorg het dat die gate reg was vir die geleentheid.
Die Witkaree is gewild as skaduboom op talle openbare terreine. Dis ‘n netjiese koelteboom met ‘n wilgeragtige groeiwyse, is redelik droogtebestand, groei matig-vinnig tot ‘n hoogte van 8 meter en het ‘n nie-aggressiewe wortelstelsel.
Die boomplantseremonie is waargeneem deur Johlene Viljoen (takvoorsitter) en Elsa Smuts wat namens die VLV tak twee bome geplant het, Marie Swart (erelid) wat ter nagedagtenis aan Maria Stofberg(geb. Botha), wat die Villiersdorp tak in 1929 gestig het, ‘n boom geplant het – geborg deur die Botha familie van Stettyn – en Hermien van Zyl (taksameroeper vir Landbou&Tuinbou) wat ter nagedagtenis aan haar ma, Sarah Erasmus, ‘n voorsitter en erelid van die tak, ook ‘n boom geplant het – geborg deur die Erasmus familie van Skoongesig.
Mari Boers en Colleen Wheeler het onderskeidelik namens die Vroueklub en die Tuinbouvereniging ook elkeen ‘n boom geplant. “Ons vereer ons voorgeslagte met die bome wat ons vir ons nageslag plant” is die VLV se verbintenis tot omgewingsbewaring, en hulle het ander organisasies en families aangespoor om hierdie voorbeeld te volg. ‘n Gelamineerde plakkaat is aan Edu Roux oorhandig met die besonderhede van die geleentheid en ‘n beskrywing van die boomsoort.
Ná die boomplantseremonie is al die taklede en gaste na die Banketsaal vir die maandvergadering. Hermien van Zyl, sameroeper, het verslag gedoen van die VLVK Kongres wat in Kimberley plaasgevind het, en meer vertel oor die Klein Flamink (Lesser Flamingo), die Voël van die Jaar, wat by Kamfersdam, buite Kimberley, broei. Beide die verslag en die praatjie het sy toegelig met foto’s en plakkate.
Nadat die Jeugkoor van Exelsiorplaas ‘n sangitem gelewer het, het Villiersdorp se VLV tak afskeid geneem van Hermien van Zyl wat onlangs na Kleinmond verhuis het. Sy is in 1988 vanaf die Piketberg tak oorgeplaas Villiersdorp toe en het dadelik op die bestuur begin dien en die tak se mediadekking behartig. Vanaf 1994 tot 2006 was sy takvoorsitter en tree nou uit as sameroeper vir Landbou & Tuinbou. Johlene Viljoen, voorsitter, het vir haar ‘n geskenk oorhandig en Monica Roux, sekretaresse, ‘n rits orgideë.

Die Jeugkoor van Exelciorplaas besig met hulle sanguitvoering.

Mev Elsa Smuts plant 'n VLV-boom terwyl Edu Roux hand bysit.