Posted on
21 September 2010
Die somer is hier en almal wil graag buitentoe, maar baie van ons het die winterskos en biltong so geniet dat verlede jaar se klere nie meer pas nie!
Cindy is ’n dieetkundige by die Kuruman hospitaal en het met Kuruman se VLV lede kom praat oor gesonde eetgewoontes. Nadat elkeen ’n vraelys ingevul het kon mens uit dit wat jy die voorafgaande 24 uur geëet het, sien hoe ‘n mens meestal uit gewoonte sekere goed eet. Mens eet later sonder om daaroor te dink. Dikwels ook nie omdat jy honger is nie. Wanneer laas het jy bewustelik gekyk na wat jy eet?
Ons almal weet wat is gesond vir ons en ons weet dat die grootte van die porsies wat jy inneem belangrik is. Verder weet ons dat jy nie meer moet eet as wat jy in energie uitgee nie, want dit sal gestoor word as vet.
Sy verduidelik jou verskillende kosbehoeftes aan die hand van ’n beeld waar die siel in die middel tussen die liggaam en gees staan, met ’n opening vanaf die siel na liggaam en gees. Wanneer jy nie aandag gee aan jou geestelike behoeftes nie en dit verwar met liggaamlike behoeftes, sal jy ook meer eet en die gees se behoeftes word afgeskeep. So word jy ’n emosionele eter wat by die geringste ontsteltenis jou troos vind in kos, en dikwels kos wat niks positiefs tot jou liggaam se welstand bydra nie. As jy egter ’n oomblik nadink oor die emosies wat jy ervaar en dit uitsorteer, sal jy ook wyser kosbesluite kan neem.
Dink verder aan kos vir liefde en nie liefde vir kos nie. Kos soos God dit aan ons gegee het is byvoorbeeld vrugte en groente verkieslik rou, soos wat ons dit direk uit die natuur kry. Cindy se raad is om te dink oor alles wat jy in jou mond sit, dit te geniet as dit goed is, en om te kyk na jou geestelike behoeftes, wat net God kan bevredig.
Beriggewer: Petro Spangenberg

Cindy, dieetkundige van Kuruman