In Kuruman se VLV onder leiding van Tonna Delaney het die Kuns en Handvlyt groep ’n behoorlike kreatiewe inspuiting gehad hierdie jaar.
In die eerste vergadering het ons gekyk na digitale fotografie en Susan Myburgh, voorsitter van Kathu se fotografie klub, het met ’n skyfievertoning handige wenke gegee. Wat my die meeste bybly is die keuse van agtergrond en groepering van mense. Met bome op die agtergrond moet jy mense so plaas dat dit nie lyk of daar ’n boom uit iemand se kop groei nie! Sy gee ook inligting oor portretstudies en landskappe, en waarna mens moet let by die neem van troufoto’s.
Lid Eleanor Lamprecht het gesorg vir ’n baie groot Bybel uitstalling en sy het vertel van die ontstaan van ons eie Bybel en het ’n hele paar geslagte se Bybels saam met Marelie Keuler se antieke koerante uitgestal.
Tonna en ekself het ’n hele tafel vol geskenkverpakkings gemaak, en jy kon kies tussen pizzabokse en versierde sakkies, sowel as mooi kaartjies om daardie spesiale geskenk te verfraai
Me Dawn Grobler het ’n blitsbespreking oor depressie gehou en ’n ondersteuningsgroep is gestig. Dit is bekend dat depressielyers baie baat vind by sulke groepe waar mens kan assosieer met ander wat dieselfde voel oor dit wat ons lewens kompliseer.
Met ons onlangse vergadering was Marisca van der Merwe, ’n plaaslike kunstenaar, ons gas vir die middag. Sy het een van haar eie komposisies op haar nuwe CD gesing en beklemtoon dat sy net Gospel sing. Verder kon die lede hul verlustig aan haar vermoë om binne sekondes ’n kunswerk in houtskool voort te bring. Sy kombineer dit met verf en ander tegnieke, en hou daarvan om op groter panele en borde te skilder. In Marisca se eie woorde: Ek doen alles groot en tot eer van die Here!
Ander lede in die Kunste en Handvlyt groep is Santa Lamprecht, Tokkie Koortzen, Sonette Strydom, Nicolene Scheepers, Sandra Scholtz en Tersia Grobler.
As jy hou van skilder, musiek, fotografie en handvlyt dinge soos kaartjies maak en krale ryg, kan jy gerus kom aansluit. Bak en kook geniet sy regmatige plek, maar niemand word gedwing om te kompeteer nie. Dis nou die ideale tyd, want ons jaar het einde September afgesluit. Vir minder as R12 per vergadering kry jy blootstelling aan en onderrig in Kuns, Land- en tuinbousake, Leefstyldinge, Gesondheidskwessies, Openbare Sake en alles oor Opvoeding. Jy word oor die algemeen as mens gereken, leer om by jou probleme verby te kyk en eerder iemand anders se nood te help verlig, en jy leer vaardighede aan wat jy oral kan toepas (12 lede is onderwysers!).
Met die tema van Aanhouer wen , kan elke VLV-vrou haar kop hoog hou in die gemeenskap en doen wat die hand vind om te doen!
Beriggewer: Petro Spangenberg
Marisca van der Merwe verduidelik hoe om hare en maanhare met houtskool te teken. Op die agtergrond is 'n pragtige voorbeeld van haar werk. Sy kombineer houtskool met verf en ook ander interessante goed soos aangemaakte koffie wat 'n sepia effek het saam met die swart houtskool.
