Posted on 12 November 2010

Vanjaar 200 jaar gelede, is Frédéric Chopin  gebore. Chopin was een van die grootste komponiste van die Romantiese tydperk, en staan vandag uitsluitlik bekend as komponis van klavierwerke. As een van die eerste nasionale komponiste het hy die Volksmusiek van Pole tot konsertsaal-status verhoog met sy Mazurkas, Walse, Nocturnes, Polonaise, Etudes en Preludes.

 

Hy is in 1810, as die enigste seun van 4 kinders, naby Warschau gebore en bring 20 jaar in Pole deur. Reeds as kleuter was Chopin emosioneel baie fyngevoelig en het hy ‘n buitengewone aanvoeling vir musiek gehad.

 

Nes Mozart, was Chopin self ‘n wonderkind van musiek. Sy klavierlesse begin nog voor hy kon lees, en hy het reeds eenvoudige Poolse dansies gekomponeer nog voordat hy kon skryf!  Voor sy 9de verjaardag neem hy deel aan sy eerste groot openbare uitvoering, wat gelei het tot menige uitnodigings. Chopin was liggaamlik nooit baie sterk nie, en het dus voor klein waarderende groepe opgetree. 

 

Op 21 vestig hy hom permanent in Parys. Hy sterf op 17 Oktober 1849 aan tering. By sy begrafnisdiens word Mozart se bekende Requiem uitgevoer. 

Comments are closed