Vir die tweede agtereenvolgende jaar kon Kuruman se VLV behoorlik uithang met lekker eetgoed, vars koffie en ‘n geselsie op die stoep! Met 3 lede wat op die skoukomitee dien, is terugvoering ook belangrik en probeer ons jaarliks insette lewer om die skou te laat werk as belangrike inspuiting vir die Kuruman gemeenskap.
Met behulp van Kobus en Mareta Botes van Blue Chip Mining, is 35 bejaardes van Mimosahof getrakteer op middagete, en vir 3 dae lank kon jonk en oud, in die koelte van die breë stoep kom skuiling vind, en heerlike eetgoed geniet.
Dit is deel van ons strategie om sigbaarheid te verhoog, en sodoende die gemeenskap bewus te maak van VLV wat daarop gemik is om die volwasse vrou toe te rus vir haar taak as vriendin, moeder en eggenoot. Deur verder gereeld berigte in die plaaslike koerant te plaas maak ons seker almal weet van die VLV.
Ons het ’n projek waar jy as lid nuwe intrekkers moet nader om hulle tuis te laat voel, deur betrokke te raak by die VLV. Is dit nie ’n bonus as jy kan aansluit by ’n netwerk waar jy dadelik toegang het tot meer as 50 vriendinne wat jou dadelik kan opneem in hul kring van bedrywighede nie? Op die manier sal niemand eensaam en ledig hoef rond te sit in ’n nuwe, vreemde omgewing nie.
In 2010 het ons 15 nuwe lede gewerf, waarvan sommiges hulself kom aanmeld het na die blootstelling by die skou se teetuin!
Persoonlik glo ek as iets vir jou werk, moet jy dit met ander deel deur dit vir hulle aan te beveel!
Beriggewer: Petro Spangenberg

Die ingang maak seker jy weet wie se stalletjie dit is!

Petro Spangenberg neem ‘n selfoonoproep en rus bietjie die moeë bene.

Marina Strydom, Elsabe Hennig, Marinda Stander, Tilly TerBlanche, Francis van der Merwe en Petro Spangenberg in ligte luim by die teetuin se luik na die besige kombuis.

Petro Spangenberg tussen Sonette en Louis De La Rey en hul vriende. Die outydse tafel is versier deur Marinda Stander.