Posted on 19 December 2010

Donderdag 18 November 2010 het Vredendal VLV tak ‘n heuglike dag gevier, want hulle was tagtig jaar.  Die tak is op 29 November 1930 gestig, slegs ‘n jaar nadat die Vroue Landbouvereniging van Kaapland deur Mev. Jossie Ackermann gestig is.

 

Ds Jan Fourie open met skriflesing en gebed. Hy wens die VLV tak geluk met die mylpaal wat hul bereik het.

 

Mev. Sophie Malan het tak se geskiedenis vervolgens in herinnering gebring.  Daar is 8 kerse opgesteek wat elk ‘n dekade voorstel. Die kerse is as volg aangesteek:  Eerste kers: Dr. Anna Louw   Tweede kers: Myrtle Beukes   Derde kers: Bertha Botha   Vierde kers:  Rita Burger  Vyfde kers:  Hendrika Louw   Sesde kers:  Hettie van Zyl   Sewende kers: Reinette Thiart en die Agste kers: Beatrice  van Zyl

 

Die vroeë geskiedenis van die vereniging sorg vir interessante leesstof.  Om net ‘n paar dinge te noem  wat tot stand gekom het as gevolg van die visie en energie van die verskillende voorsitters en lede deur die jare: ‘n Gesondheidsvereniging is in die dertigerjare gestig. In 1948 is nie minder as 250 bome in die dorp aangeplant. Spoedbeperkingsborde is in die dorp aangebring en die Kommetjie by Strandfontein is veilig gemaak vir kinders om te speel. Die Bloedoortappingsdiens is oorreed om ‘n kliniek op Vredendal te hou. Die eerste konserte is gereël met bekende kunstenaars soos Gé Korsten en Groep Twee.

 

Daar was omtrent nie ‘n enkele ontwikkeling in Vredendal en omgewing waarin die VLV nie ‘n  rol gespeel het nie. Wanneer ‘n mens die ou notules van die vergaderings lees, staan jy verstom oor die visie, talente en vaardighede waaroor die vroue wat lede was van die tak beskik.  Hulle het voorwaar nie hul talente onder die maatemmer verberg nie, sodoende het hulle ‘n wonderlike positiewe invloed in die gemeenskap uitgeoefen.

 

Tannie Hannetjie van Schalkwyk ‘n lid van die tak het ‘n spesiale gelukwensings boodskao geskryf. Graag deel ek dit met julle.  VLV VRDENDAL baie geluk met hierdie spesiale verjaarsdag!  Die 80ste!  Nog vele vrugbare jare en kreatiewe aktiwiteite toegewens!

Voorspoed!

 

“Alle dinge in hierdie wêreld is geskenke en tekens van God se liefde vir ons.  Die hele wêreld is ‘n liefdesbrief van God aan ons.

 

 

 

 

 

 

 

Comments are closed