In ons gejaagde lewe van geld en goed, vergeet 'n mens gou om 'n slag stil te word en weer die gawes van die natuur te waardeer. 'n Gemanipuleerde, onnatuurlike foto van 'n blom op jou rekenaarskerm, kan nie kompenseer vir die voorreg om 'n rare, wilde berg-orgideë'tjie op jou knieë te ontdek, waar dit verskuil in 'n doringbos iewers op die Hantamberg groei nie. Maar toe sy, met soveel liefde en bewondering die delikate plantjie vir ons kom wys het, wat sy as snuffelitem spesiaal gaan soek het tussen die klippe en bosse, kon enigeen opnuut besef dat Alfreda Visagie haar nie laat meesleur het in die maalkolk van 'n wêreld wat afgestomp geraak het nie. Nee, tot die dag wat sy gehaal is, om in die hemelse blomtuine te blom, het sy in fyn aanvoeling gelewe met die natuur om haar, en het sy haar passie en liefde daarvoor uitgeLEEF!
Diegene wat die voorreg gehad het om saam met Alfreda op Saaihoek te kon kuier, sou hierdie passie kon beleef. In haar geliefde groentetuin. Tussen haar kleurryke blombeddings. Onder haar hoenders en hans melkbokke, wat élkeen 'n naam het. In die honderde vrugtebome. Op haar spensrakke wat nou nog kreun onder die gebottel uit haar eie tuin. In haar kombuis vol lag en kuier en lekker kos...
In die gemeenskap was sy 'n geliefde inwoner, wat nooit te haastig was vir 'n geselsie nie. As ywerige lidmaat, was geen taak ooit te veel gevra vir die gemeente nie. Vir menige VLV-vriendin, was sy, vir byna 30 jaar 'n inspirasie met haar onblusbare lus om te werk, te lei, te kompeteer, maar bowenal om te gee: van haar tyd, haar idees, haarself. Haar plek is leeg in ons harte en in ons midde. Ons betreur haar heengaan, maar gun haar hemelse rus, waar pyn en siekte nie meer bestaan nie.
Vir Henta was sy 'n getroue, ondersteunende eggenote. Vir Anneri en Jan-Paul 'n liefdevolle moeder. Vir haar vriende 'n lojale vriendin. Mag haar nagedagtenis voortleef in ons harte, en mag ons nooit vergeet hoe sy ons menswees aangeraak het met haar omgee nie.
ALFREDA VISAGIE, ons snuffelaar. . .
