Posted on
26 January 2011
Proponent Riana Erasmus vanaf Cradock-Oos NG Gemeente het Hofmeyr VLV die afgelope vergadering besoek om die Nuwejaarsboodskap "Aanhouer wen" te lewer.
Sy stel dit duidelik dat Gods woord aantoon dat ons as Christene altyd meer as oorwinnaars is. As Christene kan ons die bose oorwin - ons kan dalk nie kanker, depressie en ontrouheid oorwin nie - maar die bose wel. Die Bose sal die vreugdes uit jou lewe steel. Ons kan nie ons omstandighede kies nie, maar ons kan kies of ons as oorwinnaars in die omstandighede gaan optree.
Bose magte hou nooit op om dit wat kosbaar is vir jou te steel nie - maar aanhouer wen, en Christus maak ons meer as oorwinnaars. Elkeen van ons het al alleen probeer veg, maar ons kon net vir so lank volhou - maar as jy in Christus veg, kan jy vir ewig veg. Die Bybel belowe wel dat Christus jou na kalm waters "Water waar rus is" sal begelei, maar hou aan veg teen Satan.
Moenie ophou nie, jy gaan 'n oorwinnaarskroon kry in die lewe hierna. Elke Christen is meer as 'n oorwinnaar deur Christus wat jou krag gee. Stap met oorwinning en vat diegene om jou saam - en as Aanhouer sal jy wen!
Na afloop van die Nuwejaarsboodskap het Adéle Vermaak, Sameroepster van Kuns, 'n praktiese demonstrasie gelewer, en die sameroepsters het geleentheid gehad om hul wenke te gee.

Susan Vermaak, Voorsitter Hofmeyr VLV, by Prop. Riana Erasmus van Cradock-Oos gemeente.