Posted on
31 January 2011
Jamestown se VLV het 2011 afgeskop met 'n Potpourri-vergadering. Die dag se kompetisies was blomme, en nadat enkele riglyne vir kriteria bespreek is, moes die teenwoordiges stem vir hul gunstelinge. Om die Potpourri-vergadering in te kleur, het elke saamroeper 'n beurt gekry om kortliks iets aan te bied.
1. OPVOEDING het verjaardag-almanakke uitgedeel en Vriendskapsmunte ingesamel. Elkeen moes haar hand meet vanaf punt van middelvinger tot by pols, en daardie getal maal met 30c - om die "boete" se bedrag te kry!
2. OPENBARE SAKE het almal gevra om hul bestuurderslisensies uit te haal - wat 'n groot skrik veroorsaak het! Daarna moes almal seker maak wanneer die vervaldatum daarvan was. Gaan sommer ook jou hele gesin s'n na. Sy het die prosedure verduidelik wanneer jy gaan vir 'n hernuwing, en o.a. gemaan om nie vooraf handeroom te gebruik nie, aangesien dit jou vingerafdrukke kan belemmer.
3. GESONDHEID het n.a.v. Ps 16 gesê dat, as jou gemoed reg is, jy vir baie sal kans sien! Vervolgens het sy 'n voorlesing gedoen uit "Seisoen van Genade" deur Hannes Burger, asook 'n briefie van 'n dogtertjie aan Jesus oor haar siek oupa.
4. LANDBOU het vertel watter is gesonde kossoorte, en lede aangemoedig om hul eie groentetuin te begin. Om in jou tuin rond te stap, kan jou ook baie bemoedig.
5. Ons Tesourier het Finansiële beplanning behandel, en o.a. gesê dat jy 'n lys van verwagte inkomstes en uitgawes vir die jaar moet opstel. Skryf ALLES wat jy uitgee vir ± 2 maande neer - selfs die kelner en karwag se fooitjie. Wéét wat jou man se finansiële posisie is, en leef daarvolgens! Vergeet van kompetisie met ander en impulsiewe kopery. Betaal skuld so gou moontlik af. Help jou kinders om ook 'n begroting op te stel, en met hul sakgeld uit te kom. Pas jou goed op en leer jou kinders en plaaswerkers om dieselfde te doen. Spaar vir 'n spesiale bederf iewers in die jaar.
6. KUNS het vir elkeen 'n blanko papier gegee waarop jy jouu naam moes skryf en dan enigiets kleins moes teken - 'n blokkie, blom, strepe, ens. Die papier is dan in die ry af gestuur en elkeen moes iets by teken. Wanneer jy dan jou eie papier terugkry, is dit 'n hele kunswerk. Baie kreatief!
7. LEEFSTYL het 'n baie insiggewende vasvra oor gebak gehou, bv. oor mate en gewigte, oondtemperature, en oorsake van "flops". Elkeen het darem 'n stokkielekker gekry vir die skok! Sy het ook gedemonstreer hoe deurmekaar vroue se handsakke is, en toe gewys hoe maklik dit is om orde in jou handsak te skep. Koop 'n paar goedkoop potloodsakkies en plaas los items daarin. Bv. 1 vir grimering, 1 vir medikasie, en 1 vir skryfbehoeftes en notaboekies. Hou ook 'n boekie met belangrike nommers, soos bv. jou en jou gesin se voertuie se registrasienommers, asook TV-lisensienommer en mediese fonds nommer.
Ten slotte is 'n Noot-vir-Noot aangebied met pryse vir almal!
Die groot groep lede en besoekers om die teetafel.

Die groot hoeveelheid blomme- en groente-inskrywings.

Never give up : Die geskenkies wat elkeen ontvang het ('n Blikbekertjie met roosruikertjie en 'n kaartjie).
