Posted on
02 February 2011
Victoria-Wes: Saterdag, 22 Januarie, het die eerste vergadering van die plaaslike VLV tak in die kerksaal plaasgevind. Dit was die jaarlikse Potpourri vergadering en het gesorg vir heelwat verskeidenheid.
Nadat die voorsitter, me. Perrin, geopen het met 'n voorlesing en gebed, is die program op 'n vrolike noot begin. Meneer Trompie Daniels, wat by die plaaslike Sentrale werksaam is, het die dames bekoor met sy lieflike sang. Nadat me. Sinclair hom bedank het, het me. Du Plessis die dames se kennis oor vel- en borskanker getoets. Dit is opgevolg met me. Perrin se praatjie oor die oudste huis in die dorp; tans De Oude Pastorie gastehuis. Sy het die dames kortliks ingelig oor die huis se geskiedenis en onder andere genoem dat dit saam met die NG kerk gebou is en in gebruik geneem is.
Mevrou Sinclair het inligtingstukke aan die dames uitgedeel. Dit bevat wenke vir tuinmaak in die Karoo en is saamgestel deur Marietha Dignon van ons plaaslike kwekery. Alhoewel die tegnologie ons bietjie in die steek gelaat het, is kortliks vertel van die VLV se webwerf en daarna het me. Perrin vertel hoe verf gebruik word om 'n huis op te kikker. Muurskilderye in die huis en tuin, is nou baie gewild.
Nadat die dames heerlike verversings en tee geniet het, is die vergadering voortgesit. Die komende skou, met Tossie Lochner wat by die kuieroggend gaan optree, is ook bespreek. Die dames moet ook nie vergeet van die tokreen handwerksessie wat die Vrydagmiddag om 15:00 gaan plaasvind nie. Die kostes beloop slegs R45.00 en sluit materiaal in. Besprekings moet asseblief voor 8 Februarie by Elize gedoen word. (Sel: 0726005809).
Voordat Januarie en Februarie se verjaarsdagdames gelukgewens is, is die gelukkige trekking vir die verrassingsmandjie gedoen en dit is deur me. Perrin gewen.
Beriggewer: Rina Coreejes

Trompie Daniels