Posted on
13 February 2011
Datum: 4 Februarie 2011
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Saamroeper: Annalie Steenkamp
Indiensopleiding vir studente-leerkragte
Mnr Leon Mostert, skoolbestuurder van Laerskool Calvinia, het inisiatief geneem om 'n projek by die skool te begin, waartydens onderwysstudente indiensopleiding kan doen vir die duur van hul studie. Die idee is gebore nadat 'n student by die skool geproef het, en hulle haar nie graag sou wou afstaan nadat die proeftydperk verstryk het nie. Verder is verskeie onderwys opleidingsentrums gesluit, wat baie Graad 12-leerders verhoed om verder te kan studeer, veral omdat die hoeveelheid toelatings aan tersiêre instellings ook gesnoei is. 'n Ander beweegrede was om die studente in die omgewing te hou, sodat hulle uit hul ouerhuise kon werk en studeer en derhalwe die studies beter bekostig. Maar seker die belangrikste motivering, was die feit dat die gemiddelde ouderdom van onderwysers tans tussen 45 en 50 jaar oud lê, wat beteken dat ons landwyd oor 10 jaar 'n tekort aan onderwysers kan hê. Aangesien Laerskool Calvinia eerste opsie het om die studente permanent aan te stel aan die einde van hul studies, verseker die skool dat daar genoeg onderwysers beskikbaar sal wees.
Vir die studente hou hierdie projek soveel voordele in. Die feit wat seker die meeste in hul guns tel, is die praktiese ondervinding van 'n skoolopset, wat in die aanstellingsproses meer gewig dra as bloot teoretiese opleiding. Voordele vir die skool sluit in dat die ekstra paar hande as ondersteuning vir die onderwyser kan dien.
Daar is 'n paar knelpunte rakende die projek, waaronder 'n tekort aan finansies. Die departement van Onderwys dra slegs minimaal by tot die skool se jaarlikse begroting, wat beteken dat die skool hul verpligtinge grootliks self moet finansier. Die studente-leerkragte trek dus slegs voordeel uit die praktiese ervaring van die projek, maar vooruitsigte van donateurs en beurse bestaan wat vorentoe vir die projek beskikbaar gemaak sal word.
Beriggewer: Janine Brynard