Posted on
07 March 2011
Datum: 6 Maart 2011
Beriggewer: Lorraine du Toit
Tydens die onlangse vergadering by Bredasdorp het mnr Gerome Fortuin en mev Millicent Saptou van die Verkeersdepartement by Kaap Agulhas Munisipaliteit ons meer vertel van padveiligheid en ook die nuwe puntestelsel (AARTO) wat op 1 April 2011 in werking tree. Ons sal almal in ons pasoppens moet wees, anders gaan ons behoorlik les opsê.

Elkeen begin op 0 punte en vir elke oortreding waarvoor ons gestraf sal word, sal daar punte op ons naam geregistreer word. Sommige oortredings sal 1 punt tel, maar daar is ook sommige wat ‘n allemintige 7 punte sal tel! Wanneer daar 12 punte teenoor ons naam gekumuleer het, sal ons bestuurderslisensie ingekort word. As jy vir 3 maal agtereenvolgens 12 punte of meer teenoor jou naam het, sal jou lisensie opgeskort word en sal jy heeltemal van voor af moet gaan vir ‘n leerlinglisensie en uitpassering om sodoende weer jou lisensie te verkry. As jy vir 3 maande geen oortredings gekry het nie, word daar 1 punt afgetrek. ‘n Pluspunt is dat jy 50% afslag gaan kry indien jy jou boete binne 32 dae gaan vereffen! Wag jy egter te lank, gaan jy verder beboet word deur adminfooie wat dan bygevoeg word.
Klein Karla van Lill, 11-jarige dogter van Laerskool Bredasdorp boul almal heeltemal uit met haar gemaklike sang onder kitaarbegeleiding van haar pa, Eben van Lill. Sy sing onder meer “Boggom en Voertsek” van David Kramer en die gesiggie straal behoorlik van “ondeundheid” by die sing daarvan.

Mnr Derick Burger van Struisbaai vra vervolgens die vraag: “Is ons paraat indien ‘n ramp ons dorp of distrik sou tref?” Volgens hom is water, of die gebrek daaraan, een van die grootste probleme wat ons in die toekoms kan ondervind. ‘n Rampbestuursplan moet opgestel word, maar dan moet hy gebruik word en nie iewers in ‘n laai lê en stof vergaar nie! Ons bronne is redelik onder druk en hy maan ons om betrokke te raak en te bly! Ons moet sensitief wees vir rampe sodat ons kan optree sou iets ons tref.
Melanie Albertyn en Debora Watkins sluit by ons aan as nuwe lede en word verwelkom.
Charley Flack en haar groepie gasvroue word bedank vir ‘n baie insiggewende vergadering.