Posted on
18 March 2011
Die VLV Konferensie van die Sirkel Noord-Karoo wat op 9 & 10 Maart op Victoria-Wes aangebied is, was nie net puik gereël nie, maar het die afgevaardigdes opnuut die waarde van die VLV aktiwiteite laat besef en hulle met groot entoesiasme by Murraysburg se Maart vergadering laat verslag doen.
Lizl Conradie het met haar uitstekende verslag daarin geslaag om al die lede aan die konferensie te laat deel hê. Die goeie en besielende sprekers was vir haar die hoogtepunt.
Op 9 Maart het die sameroepers van die verskillende studievelde interessante programme aangebied en Alta Waldeck se Noot vir Noot-program het vir ligter oomblikke gesorg.
Maretha Badenhorst van die Strand se motiveringspraatjie met die tema AANHOUER WEN / NEVER GIVE UP was beslis inspirerend , terwyl Estelle de Kock van Kimberley se inligting oor die projek Noord-Kaap Kinderevangelisasie die dames laat besef het dat elkeen ‘n verskil kan maak. Daar word hoofsaaklik op graad-6 leerders gefokus.
Sandra Nolte se weldeurdagte Presidentsrede was ‘n goeie terugblik op die Sirkel Noord-Karoo se aktiwiteite van die afgelope jaar, terwyl Izak van der Merwe bedank is vir sy ruim skenking wat die Johanna van der Merwe studiefonds moontlik gemaak het.
Die lede is meegevoer deur Romano Galant se briljante nabootsing van Michael Jackson se dansstyl. Die vergadering was nie net insiggewend nie, maar ook vermaaklik.
Beriggewer: Mette Kromhout
