Posted on
23 March 2011
Die Openbare Sake komitee het op 3 Maart 2011 ‘n baie interessante vergadering aangebied. Mnre. Phenias Ncube en Lindon Johnson van die Verbruikersraad het die tak besoek om die lede in te lig oor die regte wat hul as verbruikers het.
Mnr. Johnson het eers verduidelik hoe die huidige Direktoraat van Verbruikersbeskerming tot stand gekom het. Hierdie liggaam het regsmag en die regte van die verbruiker word deur wetgewing beskerm. Mnr. Ncube verduidelik daarna hoe die verbruiker se regte beskerm word deur die nuwe Wet op Verbruikersbeskerming wat op 1 April 2011 in werking tree. Die wet gee veral vir die verbruikers die reg op:
(a) veiligheid (beskerming teen produksieprosesse, produkte en dienste wat gevaarlik is vir gesondheid of lewe)
(b) inligting (beskerming teen oneerlike of misleidende reklame of etikette)
(c) keuse (om te kan kies uit ‘n verskeidenheid goedere en dienste van gehalte)
(d) verhaal (het die reg op verhaal – terugneem/terugbetaling – in geval van minderwaardige, onveilige en oormatige duur goedere en dienste)
(e) verbruikersopvoeding (opvoeding wat hulle sal bemagtig om met vertroue ingeligte keuses oor goedere en dienste uit te oefen).
Ons nuwe kompetisie stelsel vind ook groot byval by ons lede. Ons neem nie net as indiwidue deel nie, maar ook in twee spanne, naamlik die Aanhouer wen en die Never give up spanne. Die kompetisielys bestaan uit maklike en praktiese artikels. Daar is gemiddeld 9 kompetisies by elke vergadering, van gebak tot selfs die skryf van ‘n eie gedig. So maak ons seker dat daar darem te minste één kompetisie is waaraan ‘n lid kan en wil deelneem om so vir haar span punte te verdien.
Beriggewer: Hessie Kühl

Die beoordelaars hard aan die werk.

Lindon Johnson

Phenias Ncube

René Hanekom bedank mnr. Ncube vir 'n baie insiggewende praatjie.