Posted on
30 March 2011
Hantam VLV Huis & Haard vergadering.
Die wonder van die tegnologiese era, is dat dit ons lewens soveel vergemaklik én versnel. Waar is die dae toe die enigste kommunikasiemiddel 'n handgeskrewe brief was wat per poskoets vervoer is? Deesdae geskied hierdie vanselfsprekende handeling binne sekondes m.b.v. e-pos, sms en IMS. Verskeie aanlyndienste het die norm geword, waaronder e-koerante en e-nuusbriewe, wat 'n mens laat wonder of die dae van die tradisionele koerant getel is?
Tydens ons Huis & Haard vergadering, is 'n paar van hierdie tegnologiese hulpmiddels ondersoek. Die dames het al 'n redelike intensiewe tegnologiese ontgroeningsproses deurstaan, en vanweë die feit dat die kuberkundiges alles deesdae só gebruikersvriendelik aanbied, was die ontdekkingsproses gelukkig redelik pynloos. Na dese kan ons met bedrewenheid al die jongste nuusgebeure volg, 'n uurlikse, redelik akkurate weervoorspelling van ons dorpie of selfs ons plase dophou, ons gunsteling radiostasie beloer én beluister sonder om eers 'n draadloos daarvoor op te koppel en selfs die CD-spelers is diep weggepak, terwyl die nuutste treffers en video’s met die kliek van 'n knoppie verskyn.
Dit is fantasties wat alles vandag beskikbaar is en selfs effens angswekkend om te dink dat daar op die oomblik nóg nuwe foefies bedink word. Almal is dit eens dat ons lewens nooit weer sal wees soos 'n paar dekades gelede nie. Gaan die meerderheid voorkeure vir 'n vinniger, geriefliker bestaan seëvier, of gaan sentiment verseker dat ons darem nie deur die rekenaar verswelg word nie? Want wat is dan nou lekkerder as om 'n mooi CD as geskenk te ontvang? Of om saans te sit en wag dat Debra Meyer die hoë- en laedrukstelsels oor ons land se weerkaart verduidelik? Of nog beter - om die reuk van 'n vars gedrukte koerant in te asem terwyl die bladsye onder jou hande kraak... Ja nee, nog is het einde niet!
Saamroeper en beriggewer: Janine Brynard
Portefeulje: Huis & Haard