Posted on 14 April 2011

By De Aar tak se April byeenkoms het dié afkorting die maand nie ‘n kunstefees beteken nie maar: KAIRO, KONFERENSIE en KOEKBAK!!

 

Een  van ons lede het gedurende Desember en Januarie Egipte besoek, net voordat die onluste begin het, en sy het ons kom vertel van dinge wat haar opgeval het en wat ‘n mens nie noodwendig in reisbrosjures lees nie. Die eerste ding wat hulle opgeval het was die feit dat die mense nie hul huise klaar bou nie. Die hele Egipte lyk soos ‘n bouval. Daar is ‘n wet in Egipte, dat as jou huis nog nie klaar gebou en geverf is nie, betaal jy nie grondbelasting nie, so….niemand bou hul huise klaar nie!!! 

 

Die Sahara aan die westekant is woestynsand, maar die Sinai is ‘n klipwoestyn met byna geen sand nie, net die een rotsgebergte op die ander. Dit is ook die rotse wat aan die Rooi See sy naam gee, dit weerkaats in die see wat dit dan rooi laat lyk.

 

Kaïro is ‘n belewenis. Daar bly 25 miljoen mense in die stad en in die strate is 12 miljoen motors, wat aan die regterkant van die pad ry. As ‘n pad 3 bane het ry daar 5 bane motors, 2 ry oor die witstrepe. Niemand gebruik flikkerligte nie, net hul toeters. As hulle van baan verander of draai, gee die ander motoriste hom ‘n kans. En niemand word vir niemand kwaad nie!

 

‘n Ondervinding wat hulle vir niks sal ruil nie is die 2 keer wat hulle, tussen Edfu en Aswan deur die sluise in die Nyl is. Met die rit na Aswan het hulle in die sluis ingevaar en dit is vol water gepomp, sodat hulle meters opgestyg het en met die terugkoms het hulle ingevaar en die sluis is weer leeggepomp, sodat die boot kon daal om verder te vaar. 

 

Daar is verskriklik baie plesierbote op die Nyl. By die verskillende dorpe parkeer hulle, partykeer tot 7 langs mekaar, maar gewoonlik so 4. ‘n Mens loop dan deur elke boot se “lobby” tot op die kaai. 

 

Terugvoering van die jaarlikse konferensie, hierdie jaar op Victoria-Wes, was volgende op die program. (Die volledige verslag is onder Sirkelnuus – Sirkel Noord-Karoo.) Charmaine Smith het die middag afgesluit met ‘n demonstrasie van hoe mens ‘n Beetkoek in die mikrogolfoond bak en natuurlik kon die dames daarvan proe en nou gaan almal dit probeer............     

 

  

 

 Half geboude huise.

 


 

 

 Sinai Woestyn.

 

 

 

 7 plesierbote in die hawe.


 

Die boot nader die sluis, die hekke begin oopmaak.

Comments are closed