Posted on
02 May 2011
Mathilda Visser
Mathilda en haar man woon op ‘n plaas naby Richmond en bedryf ook die Caltex Motorhawe en KAMA restaurant op die dorp. Sy is ‘n VLV lid en verras ons almal met dit wat sy stilweg en beskeie doen.
Bejaardes: Sy bied elke jaar vir die bejaardes van die dorp en distrik ‘n tee of geselligheid aan met behulp van die vroulike personeel van hulle besigheid. 2010 het sy ‘n tee aangebied vir die bejaardes met inspirerende sang. Sy het ‘n sak vol gerestoureerde poppe vertoon. Die stukkende poppe, wat opgetel en herstel is, is deur die personeel van nuwe kleertjies voorsien. Hierdie poppe is uitgedeel aan die kliniek op Richmond en geskenkpakkies met poppe en lekkernye is uitgedeel aan kinders by die Universitas Hospitaal in Bloemfontein.
Sy het Kersgeskenke uitgedeel aan die kinders van die Kinderhuis op Reddersburg - skeerbenodigdhede aan die groot seuns, sjampoe en badbenodigdhede aan die groter dogters, draadkarre met elkeen se naam op ‘n plaatjie vir die kleiner seuns en vir die kleiner dogters poppe met stootwaentjies en poppe, elk met ‘n eie bedjie.
Tans is sy besig om die 12 vroue wat werk op die plaas en by die motorhawe in die stil tye te leer brei. Hulle beplan om hierdie jaar 100 klein poppies te brei en aan die einde van die jaar vir behoeftige kinders uit te deel.
Mathilda en haar span werkers doen ook kralewerk. Hulle maak o.a. servetringe wat in die restaurant gebruik word.
Mathilda is as ouderlingsvrou baie geliefd in hulle wyk. Sy het bv. verlede jaar die wyk se afsluiting gereël met die tema: “One day at a time”. Die boodskap was dat ons nie moet uitstel om iets goeds aan iemand te doen nie. Hierdie boodskap het vrede in verskeie harte gebring. Ons kan met vrymoedigheid sê dat Mathilda mense se behoeftes raaksien en self aanbied om te help waar sy kan.

Mathilda en haar man, Kabous.