Portefeulje: Gesondheid
Die Gesondheid portefeuljekomitee van Porterville tak het twee interessante sprekers gehad op hul vergadering op 5 Mei 2011.
Dolla Naurattel, ‘n inwoner van Porterville, het vertel hoe haar man vir twee jaar dialise ontvang het voordat hy aan nierversaking gesterf het. Sy demonstreer die apparaat wat gebruik word met peritoneale dialise en verduidelik hoe die vloeistowwe deur ‘n buis in die buik uit en in die liggaam getap word. Haar man het vir twee jaar elke dag vier maal per dag dialise ontvang.
Sy het geleer hoe om self die proses uit te voer en moes noukeurig rekord hou van die hoeveelheid gifstowwe wat uitgelaat is. As gevolg van infeksie moes hy soms na die hospitaal gaan waar hy aan ‘n masjien gekoppel is vir dialise en behandeling ontvang het om die infeksie op te klaar. Hy het nie vir ‘n nieroorplanting gekwalifiseer nie, want sy algemene gesondheid was te swak, daar hy ook hartprobleme gehad het. Sy getuig dat die krag wat sy van die Here ontvang het en die ondersteuning van vriende en familie haar deur hierdie tydperk gedra het.
Sakkie van der Westhuizen is ‘n 43-jarige man wat in 2006 ‘n nieroorplanting gehad het. Voordat ‘n ernstige nierkwaal by hom gediagnoseer is, was hy relatief gesond en het aan sport deelgeneem. Hy het die erge moegheid wat hy begin voel het, aan die druk oesprogram op die plaas toegeskryf. Die probleem het egter vererger en in Desember 2005 is hy weens ernstige nierversaking in die hospitaal opgeneem. Daar is hy aan ‘n dialisemasjien gekoppel en het hy gehoor dat slegs ‘n nieroorplanting sy lewe kon red.
Bloedverwante familie kan as skenker kwalifiseer, maar dit kan lei tot psigiese en maatskaplike gevolge. Daarom word daar eerder na ‘n buiteskenker gesoek. Hy was gelukkig om betyds ‘n nier te kon ontvang, wat vir hom ‘n tweede kans op lewe gebied het. Hy verduidelik van die trauma wat sy gesin en familie moes deurgaan voordat hy die oorplanting ondergaan het, asook daarna. Volgens hom is dit juis hierdie persone wat die ondersteuning en aandag nodig het en nie soseer die pasiënt alleen nie. Die lewenswyse van die orgaan ontvanger verander drasties na die oorplanting.
Hy sal vir die res van sy lewe op medikasie wees wat van tyd tot tyd aangepas moet word. Hy moet gereeld gaan vir mediese toetse. Hulle gesinslewe word ook geraak, deurdat hy byvoorbeeld nie saans kan uitgaan nie, veral nie in die wintermaande nie. Hulle moes ook afstand doen van hul troeteldiere en kan ook nie gaan kuier by mense wat troeteldiere het nie. Die probleem van infeksie en moontlike orgaan verwerping moet altyd in berekening gehou word.
Vandag probeer hy sy lewe so normaal as moontlik leef. Hy oefen gereeld en gaan as lid van die Proteaspan deelneem aan die Orgaan Spele wat in Junie 2011 in Swede gehou word. Hy stel homself beskikbaar om berading te gee aan enige persoon wat wag op ‘n orgaanoorplanting of wat dit reeds ondergaan het. Hy moedig die lede aan om orgaanskenkers te word en so die lewe van ‘n paar persone te red.
Beriggewer: Hessie Kühl

Dolla Naurattel, Ena Cruywagen (Gesondheid Saamroeper) en Sakkie van der Westhuizen.

Sakkie van der Westhuizen vertel van sy nieroorplanting.

Dolla Naurattel verduidelik hoe die dialisetoerusting werk.