Op Vrydag, 27 Mei 2011, het dit al vroegoggend geklink na ‘n vrolike jollifikasie by die B&M Garage op Bredasdorp waar die plaaslike ouetehuis, Suideroord, ‘n groot fondsinsamelingsprojek gereël het ter stuiwing van hulle fondse. Mense kon vir ‘n tydperk van 15 minute deelneem aan ‘n matrasspring en ons het besluit dis nou die regte ding om dit sommer ook as bietjie span-bou te geniet. Bredasdorp VLV het hul deel gedoen om te help deur ‘n span van 5 in te skryf. Ons het selfs een van ons VLV-mans ook ingespan.
Niemand het geweet wat om te verwag nie, maar watter heerlike dag was dit nie! Vrolike musiek het gespeel, daar was heerlike pannekoek, koffie en tee en ander lekkernye te koop en so tussen deur was daar die hele tyd iemand besig om te spring. Die reël was dat jy net die hele tyd aan die beweeg moet bly, jy hoef nie fisies te spring nie! Op die maat van die heerlike musiek was dit nogal nie moeilik om aan die beweeg te bly nie, en het ons ook ‘n paar gym-passies uitgehaal!
Verskeie besighede, skoolgroepe, klubs en selfs al die predikante het kom spring. ‘n Bekende meubelwinkel het twee splinternuwe matrasse geskenk, maar of hulle die dag sou deurmaak, was ‘n ope vraag.
Hierdie poging was ‘n vernuftige manier om fondse te in en terselfdertyd kon oud en jonk heerlik saamkuier.
Beriggewer: Lorraine du Toit

Voor die groot spring, (LNR) Lorraine du Toit, Amanda Beyers, Marie Spamer en Ina Odendaal. Voor is Tertia de Villiers.

Fluks aan die spring, (LNR) Hennie Odendaal, Lorraine du Toit, Amanda Beyers, Tertia de Villiers, Marie Spamer en Ina Odendaal.

Amanda Beyers, Marie Spamer, Lorraine du Toit en Hennie Odendaal.