. . . oor alles en nog wat. Ons hoef nie noodwendig net VLV-sake te bepraat nie. Ons wil graag hoor hoe dit daar aan jou kant van die wêreld lyk en waarmee jy jouself besig hou. Laat van jou hoor, asseblief!
6/3/2011 2:28:24 AM #
Nou laat ek sommer die bal aan die rol kry..................... Dis 'n heerlike wintersdag met so 'n loom sonnetjie hier in die Vriendelike Stad. Waar ek hier in my studeerkamer sit, sien ek sulke warm geel kolle tussen die lower van die tuin. Elke seisoen het sy eie bekoring. Môreaand word PE se mees sjarmante jong man gekies, tydens die gala aand van Die Burger/Boardwalk Mr. PE 2011. Dit is die 10de jaar wat 'n jongman aangewys word om as rolmodel vir die jeug van die Metro te dien. My wederhelf reël die geleentheid - vir ingeval jy gewonder het, hy's nie 'n finalis nie, maar darem ook baie sjarmant!! In Sirkel Middelland geledere is ons druk besig om alles gereël te kry vir 27 Augustus, wanneer ons Bye Ma, Jaypee met Chris van Niekerk in die titelrol en Margit Meyer Rodenbeck as regisseur, gaan aanbied. Chris (ou Krokkodil van 7de Laan) lewer blykbaar 'n uitmuntende vertolking! Die teks kom uit briewe wat grimeerkunstenaar JP Malherbe elke jaar met die herdenking van sy Ma se dood in die koerant laat publiseer het. Julle moet laat weet, as julle Sirkel dalk ook die stuk sou wou aanbied. Ek hoop jy't 'n jirrlike!!!! dag en dat die naweek nog beter sal wees. Groetnis, Natania
natania
6/5/2011 12:00:55 PM #
Hi Natania, het die afgelope naweek heerlik saamgekuier met familie daar van die Vriendelike Stad!!Stuur bietjie meer inligting oor die stuk van Jaypee, dalk kan ons dit ook aanbied!Hierdie week wag weer met volop gebeurlikhede, en intussen wag kongres ook nog met alles wat rondom dit moet gebeur. Ons sien al uit daarna om al ons VLV-vriendinne hier in Viliersdorp te ontvang.Moet nou nie té koud kry nie, mag dit vir almal 'n wonderlike week wees.GroetnisLorraine
Lorraine du Toit
6/7/2011 12:20:33 AM #
Vriendinne! Die hemele is wawyd oop hier by ons! Dit reën....lank, aanhoudend en deurdringend. WONDERLIK!!!! Van die os op die jas. As jy 'n bydrae stuur vir plasing op die WW, moet jy darem meer info gee as bloot net die feit dat *** tak 'n *** vergadering gehad het. Ons is baie bly vir julle dat die spesifieke portefeulje gedek is en dat julle 'n lekker vergadering gehad het en dat ***, *** en *** dit bygewoon het en afgeneem is, maar wat maak dit nou eintlik aan ons? GEE vir ons INLIGTING - ten minste 5 feite - ons moet kan LEER by mekaar! Die webwerf is nie 'n 'glorified' album, notuleboek of filing system nie. En die foto's. Ooooooo die foto's!!!! SLEGS/maksimum 4 foto's per bydrae. As jy nie kan kies watter foto's om te gebruik nie, hoe dink jy moet ek dit doen - ek ken nie eers jou lede nie en ek was ook nie by die vergadering/funksie nie!!!! En SORG dat die foto 'regop' gedraai is, ASB. Diegene wat so op 'n hulle sye lê of op hulle koppe sit in 'n foto, word nie geplaas nie. Foto's moet asseblief nie groter as 600 x 480 of maks 100KB wees nie en darem ook nie kleiner as 20KB nie. En die arme Martie is ons sekretaresse en werk in Jubileumhuis, nie by die Poskantoor nie. Geen bydrae moet via HK aan myself (WW) of Lynette (H&H) gestuur word nie. Martie het genoeg werk en my & Lynette se kontakdetails is in die H&H en op die WW. Baie dankie aan almal wat lekker interessante, goed versorgde bydraes stuur. Jy maak my dag, as ek jou naam in my Inbox sien. En nou gaan ek pannekoek eet! Nxx
6/7/2011 11:14:42 AM #
Die heerlike reën is nog steeds met ons en maak diamantjies teen die ruite - so mooi, maak sommer mens se hart van voor af dankbaar. Nataan, hoop die pannekoeke was heerlik!!! @Lorraine, ons kan nie wag om daar by julle te kom kuier nie; alle voorspoed met die reëlings van Kongres. Aan ons VLV President, Erika Lubbe, baie, baie geluk! met die ombestrede verkiesing as president vir die volgende termyn van 3 jaar. Dit is 'n absolute voorreg om so 'n merkwaardige vrou as ons leier te hê!! Nou's dit tyd vir 'hot tjoklit', 'n warm bed & 'n storieboek! xoxo
Hester Nienaber - Acqua
6/7/2011 11:49:33 AM #
Ek beaam die gelukwensing aan Erika! Heelhartig! Ons is trots om so 'n navolgenswaardige vrou, wat absoluut alles feil het vir ons vereniging, as President te hê. Ons sien jou werk en opofferings raak en ons waardeer dit. BAIE GELUK! Ja, die pannekoek was nou net wat die dokter ge-order het in hierdie weer. Dit reën nog eenstryk deur. As ons damme darem nie nou gaan vol wees en ons waterbeperkings iets van die verlede nie, dan weet ek nie. Ek hoor hoe groei my tuin!! Lorraine, ek gaan die details van Bye Ma, Jaypee vir jou aanstuur. My wederhelf en my wolbere lê al diep. Een in die kooi en twee voor die kaggel - is mos lekker warm, Mamma. Klink na plan, Vriendin......ietsie warm om aan te teug en 'n boek. Nxx
6/7/2011 11:55:25 PM #
"Wat jy ookal doen, doen dit met jou hele hart en siel". - Bernard BaruchDit is die leuse en die leefwyse van ons president - baie, baie geluk ErikaSirkel Middelland
Lynette Martin
6/7/2011 11:56:50 PM #
VLV-Willowmore - dankie vir die berig op die WW - dit was 'n heerlike gesellige dag!En kan die boer sing!
6/8/2011 12:20:22 PM #
Amper het ek skande gemaak! Ek was nog nie hierdie week op die webwerf nie en het net gou geloer. Baie dankie vir die gelukwensings. Ek kry eintlik hoendervleis! Ek waardeer jul mooi woorde en ek kan maar net hoop dat ek jul nie sal teleur stel nie! Ek sal my bes probeer vir julle en vir VLVK! Ag, nee wat, Natania, hoe sal jy so aanmekaar spog met die pannekoek?! As jy jou oë uitvee, staan ons almal voor jou deur - ongenooi vir pannekoek en 'hot tjoklit'! Groete Erika
Erika
6/9/2011 10:48:48 AM #
Hoe kan ons die VLV se beeld verander van tannies-wat-tee-drink-en-koekies-eet-en-kompetisies-hou na dit wat ons regtig is? Ek het vandag 'n vriend oor dit vingers getik omdat dit sy beeld is van ons. Verlede week moes ek hoor ons is 'n klomp snobs wat sit en skinder. Dit is nie die eerste of tweeede keer wat ek die VLV moes verdedig nie. As my bydrae vir die webwerf nie reg is nie, sal ek verander! Maar ek is net nie seker hoe en wat nie! Groete uit die Boland.
Petro Greeff
6/9/2011 12:31:12 PM #
Ons kan nie keer dat iemand 'n verkeerde indruk of beeld van ons vereniging het nie, maar ons kan wel keer dat daai persoon reg is - deur hom/haar verkeerd te bewys! Dit is miskien nie net "die mense daarbuite" wat 'n paradigmaskuif oor ons vereniging (en vroueverenigings in die besonder) moet maak nie, maar dalk juis ons, die VLV lede. Kom ons wees snobs - met ons 'attitude', in plaas van met ons 'assets'. En skinder is blykbaar goed vir 'n vrou, aldus 'n artikel in elke vrou se vriendin wat inspirasie gee. Samesyn met vriendinne verrig wondere vir ‘n vrou se emosionele welstand. Om tyd te spandeer met ander vroue met wie jy ‘n emosionele band het en met wie jy belangstellings deel, verhoog jou progesteroon vlakke. En verhoogde progesteroon verminder stres, verlig angs, werk veroudering teen en help jou om te ontspan – kortom, dit verrig wondere vir jou gees én jou gesondheid. So vergeet van pille en terapie, sorg net dat jy eenkeer ‘n maand by VLV is vir optimale hormoonvlakke! Toemaar Petro, as jou bydraes wat jy vir my aanstuur nie reg is en ek nie die tyd (of die geduld) het om dit onder hande te neem nie, sal jy baie vinnig van my hoor. Ek is g'n skaam om my frustrasie sommer onmiddelik te verwoord nie. En die eerste paar keer wat dit nou nie lyk of daar gehoor gegee word aan die versoeke/wenke nie, is my e-pos aan die sondebok redelik beleefd, selfs (ietwat) taktvol, maarrrrrrrrrrrrrrr dan! Dan blog ek sommer. Die damme in ons opvangsgebiede is besig om vol te loop. Ons is DANKBAAR. Laat hierdie Vrydag vir jou 'n uitsonderlike dag wees! Nxx
6/10/2011 10:55:53 AM #
Dankie Natania, ek waardeer jou mooi antwoord. Dis absoluut 'n waar woord ivm bywoning van VLV vergaderings. Na elke vergadering voel dit vir my ek kan berge versit, het 'n lied in die hart en voel so tevrede en kan nie wag om die hele oggend se dinge vir my man te vertel nie.
6/11/2011 4:55:21 AM #
Natatania jy is darem so wel ter tale! Ons is so trots op jou. Van trots gepraat, Erika baie geluk met jou Presidentskap en mens ons is nou erg trots op jou. Waardeer wat jy alles doen. Nou ja wie het gisteraand, 10 Junie om 19H00 Nuus op SABC 2 gekyk? Het jul Willowmore se VLV-dames gesien saam met Hester Scheepers van die plaaslike Ouetehuis wat 109 geword het? Die plaaslike CMR het dit gereël en ek is genooi om die VLV te verteenwoordig. Alma Fouche was in haar hoedanigheid as Vonkelvrou van die CMR van 2010, Andra Korff, ook verbonde aan die CMR, het die wonderlikste Kolwyntjies gemaak en het die teetafel gedek, en Annatjie Du Preez is op die Beheerraad van die ouetehuis.Almal is VLV-lede! Ek het ook 'n warm winterstop aan die bejaarde dame namens VLV oorhandig. Sy het lekker gesmul aan die eetgoed en lag tog te lekker. Wat 'n voorreg om die geleentheid te kon bywoon.
Jackie Barnardt
6/11/2011 7:24:17 AM #
Hallo Jackie Baie dankie vir die gelukwensing! Ek waardeer dit! Baie geluk aan Hester Scheepers wat 109 geword het! Sjoe, dit is 'n mylpaal wat baie min geëwenaar of geklop kan word! Hierdie gebeurtenis het ook sommer gesorg dat VLVK SABC 2 se nuus haal! Baie geluk ook aan Jackie en die VLV-lede van die Willowmore-tak met jul betrokkenheid in jul gemeenskap. Dit is VLV-sigbaarheid uit die boonste rakke! Dit is nou soos Hermien van Zyl sal skryf: Dit is G8!!! Groete Erika
6/13/2011 11:18:52 PM #
More AlmalWillowmore VLV is besig met Rekenaarkursus en Google lekker. Dit is koud maar ons harte is warm. Tannie Annatjie raak vanoggend vir die eerste keer aan 'n rekenaar!!! So trots op haar, nooit te oud om te leer nie.
6/14/2011 4:54:27 AM #
Mens maar die dames is stil hier op die blog. Erika Lind dit was so lekker om jou op die web te sien. Ek sien jy het daar in die koue Vryburg die dames help riglyne gee vir die kompetisies. Annette Erasmus van Richmond wat so sit en teesakkievou doen laat my verlang na Richmond. Daar het ek begin skoolgee en haar seuntjie (Wat nou 'n groot man is) was by my in Graad 1! Julle moet laat hoor van julle.
6/17/2011 10:37:59 PM #
More uit 'n baie sonnige Redhouse! Die water van die Swartkopsrivier het gesak en daarmee saam het ook 'n paar stutwalle ingetuimel. Ek sien daar word nog reen voorspel.Jackie- die foto van die verjaardag is vanoggend in Die Burger (18 Junie)! Geniet die rekenaarkursus!Waar is die ander 17 sirkels se VLV-lede? Deel met ons 'n resep of iets! I dare you!
6/21/2011 12:33:41 AM #
Goeiedag aan almal uit 'n lekker koue karoo! Ons hou Donderdag 'n GROOT veeveiling ten bate van die gemeenskap, maar ai as ek die weervoorspelling so kyk gaan ons tande kners. Al wat VLV lid van Britstown is daar aan die werk, so beter en joliger kan nie gaan nie. Help tog asb vir my....kan iemand ons paar help wat graag die teenet artikel vir die kompetisie wil doen. Niemand van ons weet hoe nie, die biblioteke in die omtrek het geen boeke daaromtrent nie en ons google dat dit klap, maar google niks raak nie. Erens moet seker iemand wees wat ons liggie in die steke donker kan wees. Laat weet asb van jou!
Elsa Human
6/23/2011 11:48:06 AM #
Hallo uit 'n ysige Williston!Vanaand lê Williston 140km te na aan Sutherland.. ek voel die sneeu se ysige vingertjies in my nek! En wat doen ons hier?... Ons mans bied hierdie naweek 'n gholf- jagnaweek aan! Manne kom van oral oor om bakhand om 'n staanvuur te kuier en gesels oor die bok wat hy darem so ampertjies gekwes het. EN moenie van die neëntiende puntjie vergeet waar die sethoue weer oorgespeel word nie!! Van vanaand af word potjiekos gemaak, Vrydag na die jag is dit Karoolam-spitbraai en Saterdag na die gholf natuurlik braaivleis. Boys will be boys, nevermind of jou hande afvries in die proses!Gelukkig kan ek nou met 'n warmwatersak "die kooi slaaat"!! Groetnis, Salome
salome louw
6/25/2011 11:13:10 AM #
Sjoe, ek dink almal kry koud hierdie naweek, en ek dink menige dorp voel vanaand heeltemal te na aan Sutherland (of die suidpool, for that matter!). Villiersdorp het uitgehaal en gewys gister: wit tande en 'n ys-asem! Ons het daar bymekaargekom om kongres te gesels en méns, was dit koud! VLV-vriendinne wat afgevaardig is vir kongres moet maar voorsorg tref, want ek dink kóúd, gaan ons koud kry!So tussen al die beplanning, word daar reeds hegte vriendskappe gesmee en almal werk heerlik saam. Kan skaars glo oor 7 weke is ons al besig en moet julle haas begin aanstaltes maak vir die tog na Villiersdorp.Geniet julle ysige naweek, gaanklim maar met 'n boontjiesak of lekker warmwatersak in die kooi!!Groetnis!
6/27/2011 2:47:44 AM #
Elsa, Ons het 'n fundi in ons sirkel wat enigiets naaldwerk aanbetref. Sy is mev. Joey Barnardo (041) 368 2280. Ek het al my "ou" boeke vir haar gegee om op te lees oor die naaldwerk. Dit was so interessant. Gaan Google ook op "lace net darning patterns" dan sal jy op al die ww afkom - die een waarna jy moet kyk is The Gutenberg eBook of Enclyclopedia of Needlework of direk na www.gutenberg.org. Daar word dit goed beskryf en baie nuttige wenke word gegee. Sterkte met jul naaldwerk.
6/27/2011 2:53:23 AM #
Salome, Innige simpatie! Mans sal altyd mans wees. My man het griep gehad net tot VOOR die naweek! Hy is vort Cradock toe om te gaan jag, maar hy was so oulik dat hy slegs deel was van die witstoeljagters! Dit is hulle wat in die veld/waar ookal op wit plastiese stoele sit en raad gee. Hy het selfs die kosmakery waargeneem!!??LorraineOns sal die "long John's" moet saambring! Lekker organiseer - daar gaan 'n leemte in jou dag wees na kongres!
6/27/2011 9:35:51 AM #
Lynette, Daar sal beslis 'n leemte wees as julle almal weer die dag teruggaan! Ek sien al so uit daarna om julle almal weer te sien - VLV sorg dat mens altyd nuwe vriendinne leer ken en dan kan ons hulle gereeld jaarliks sien (veral as ons so ver van mekaar is)!Pak maar julle "long-john's" in, dalk 'n ou kniekombersie ook - dink nie julle sal spyt wees nie!Ek dink Hermien se beskrywing van hoe dit gaan lyk soos wat julle na Villiersdorp kom, gaan so in die kol wees!Lekker bly almal...
6/30/2011 5:13:28 AM #
Ek kuier nie baie op die "blog"nie, maar kan nie help om te spog met een van ons Steytlerville dogters, so ewe by n V.L.V vergadering op Robertson afgeneem. Ek praat van Hulanie Maasdorp wat n praatjie oor skoonheidsmiddels daar gegee het. Hulanie is die 18de Junie hier met Wiaan Conradie van Robertson getroud. Wat n pragtige troue! Dan wil ek ook net namens die Steytlerville tak vir jou baie geluk sê Erika en ook sterkte met die komende kongres."Die Wêreld behoort aan n vurige entoesias met n koel kop!" Ralph Waldo Emmerson" Jackie ons werk te heerlik aan die deurstoppe! Die jagters kry amper nie kos nie! Annette Deyzel
Annette Deyzel
7/4/2011 9:22:08 PM #
Ons is seker nie die enigstes wat sukkel om benodigdhede te bekom op die platteland nie. Ek sal net graag wil weet waarom die trui met enige breidraad gebrei kan word maar vir die onderbaadjie moet dit wol of wolmengsel wees. Al ooit probeer om wol/wolmengsel in Vryburg te koop??? Sal dit regtig die hekelwerk beter laat vertoon? Intussen brei ons fluks aan die blokke vir KANSA. Waarheen gaan die blokke, ons mense gaan na Bloemfontein of Kimberley vir behandeling. Ek neem aan daar is onkologie-eenhede in ander sentra ook. Een dag op pad na Pretoria (per motor, nie per trein nie!0, breek die een breinaald in twee. Dit is seker van ouderdom, het dit nog by my ma geëerf. So sukkel ek aan met die stukkie pen, moet net keer dat die steke nie afval nie. Toe die tweede pen in drie breek, moes ek maar halt roep tot ek weer terug by die huis was. Aanhouer wen!GroeteNellie Viljoen
Nellie Viljoen