Portefeulje: Gesondheid
Op ‘n sonnige herfsdag, 19 Mei 2011, het die lede van VLV Piketberg vertrek na die plaas Skrik-van-Rondom in die Redelinghuys distrik vir ‘n Gesondheid vergadering – ‘n uitstappie hoogs aan te beveel!
Op dié plaas van Hennie en Louise van Zyl word met aartappels en rooibos geboer. As gevolg van gesondheidsprobleme het Hennie, na deeglike navorsing en ‘n studie van die medisinale gebruike van kruie, in samewerking met ‘n mediese praktisyn, 4 jaar gelede begin om kruie te produseer, aan te koop en te formuleer. Tans is daar 70 kruieprodukte in die vorm van kapsules, tablette, druppels en gels in die mark wat versprei word deur die maatskappy Phyto Green. Self verbou Hennie die kruiesoorte Hoodia, Sceletium en Sutherlandia (kankerbos). Hy versprei verskeie soorte Rooibos kruietee in die Goudkop Rooibos reeks.
Hennie beklemtoon die uiters voordelige gebruike van o.a. Cayenne pepper, Sceletium, Sutherlandia, Slippery elm en Lobelia. Hy verskaf ook inligting rondom die gesondheidswaarde van die gebruik van plantolies, asook botter in plaas van margarien.
Ria van der Westhuizen, bekende inwoner in Piketberg – ‘n jarelange vrywillige KANSA werker - het lede ingelig oor die ondersteuning wat KANSA aan pasiënte bied.
Na ‘n bekendstelling aan die spa wat Hennie en Louise binnekort op hul plaas begin bemark en oopstel, was die middag te gou verby. Die wye en onbelemmerde uitsig oor die Sandveld omgewing en die gasvryheid van die eienaar, sy vrou en personeel het lede oorweldig. Hierdie was beslis ‘n hoogtepunt op die tak se jaaragenda!
Beriggewer: Dinette Lochner

LNR Riana Richter, Louise en Hennie van Zyl en Ria van der Westhuizen.

LNR Katinka Morrison en Susan Brand.

LNR Annatjie van Rensburg, Hanneli Carstens, Beverley Diedericks, Winnie Grobbelaar, Selomie Roelofse, Rosa Lategan en Elbeth Liebenberg.

LNR Ezette Mouton, Riana Richter, Renay Hanekom, Grace Dippenaar en Angeline Engelbrecht.